Sommige boere wat deur die brand geraak is, het al hul weiveld verloor.

Sowat 16 000 ha het op Maandag 15 Januarie in ’n brand in die slag gebly. Dié brand volg nadat meer as 70 000 ha tydens ’n ernstige brand verlede naweek in die distrik verloor is.

Die oorsaak van die jonste brand is nog nie vasgestel nie, sê mnr. Johann Breytenbach, bestuurder van die sambreelorganisasie vir brandverenigings in die Vrystaat.

Volgens Breytenbach is die brand vroeg Maandagaand met sowat 100 bakkiewaterspuite in bedwang gebring. Boere van die plaaslike en aangrensende boereverenigings het die brand help beveg.

Tweede brand by Zastron

’n Tweede brand het Maandagaand by Zastron in die Suidoos-Vrystaat gewoed, sê Breytenbach. Na verwagting het meer as 1 000 ha in dié brand in die slag gebly. Die plaaslike span van Working on Fire het boere in die omgewing bygestaan om die brand te beveg.

Breytenbach sê hulle is bekommerd dat die brande Dinsdag weer kan opvlam, met warm en winderige toestande wat voorspel word. Albei brandtonele word gemonitor.

Grondeienaars kan aanspreeklik gehou word

“Die brandgevaar in die Wes- en Suid-Vrystaat bly uitermatig hoog, terwyl die risiko oor die res van die provinsie vinnig vererger. Die toestande sal slegs verbeter as daar binnekort wydverspreide reën oor groot gebiede voorkom,” sê Breytenbach.

Die organisasie rig weer ’n versoek tot die publiek om versigtig en behulpsaam te wees. Breytenbach sê grondeienaars moet ook in ag neem dat hulle aanspreeklik gehou kan word vir brande wat op eiendom onder hul beheer ontstaan of van daar af versprei.

“Elkeen wat eiendom besit of daaroor beheer het, moet redelike voorsorgmaatreëls tref om brande te voorkom en te bestry as daar ’n risiko van veldbrande bestaan,” sê Breytenbach. “Die publiek moet ook in ag neem dat dit ’n strafregtelike oortreding is om oop vure te maak wanneer ’n hoë brandgevaar heers of om ’n veldbrand deur nalatige optrede te veroorsaak.”