Luidens ’n omvattende verslag van Graan SA oor produksietoestande teen 7 Januarie kom dit voor of net 50% tot 60% van Noordwes se mielies teen daardie tyd aangeplant was. Me. Petru Fourie, ekonoom van Graan SA, sê boere in die provinsie het aangedui dat hulle nog tot die einde van die week sou probeer plant. “Na raming is ook net die helfte van die provinsie se sojabone weens die droogte geplant. Daar is nog tyd vir sonneblomaanplantings, maar dit lyk of sover nog net tussen 10% en 20% aangeplant is.”

In die noordwestelike en sentrale dele van die Vrystaat het reën sedert einde Desember kol-kol voorgekom. Waar dit moontlik is, probeer boere mielies plant. Fourie raam dat nog net tussen 25% en 35% van die beoogde mieliehektare beplant is. “Baie min sojabone en sonneblom is ook al aangeplant, maar daar is nog tyd vir sonneblom as dit genoeg reën.”

In die Noord-Kaap lyk die mielies en sojabone baie mooi en dit kom voor of boere geplant het wat hulle voorneme was. “Daar is egter baie min grondboonhektare beplant weens ’n moeilike seisoen verlede jaar. Toestande is in die algemeen baie droog met geen tot baie min reën wat voorgekom het. Veeboere is bekommerd oor weiding.”

In die VKB-bedieningsgebied in die Oos-Vrystaat lyk dit of boere hul beoogde mieliehektare beplant het, hoewel sowat 70% twee tot drie weke ná die optimale planttyd gedoen is. “Gewasse trek swaar weens min grondvog en opvolgreën is uiters belangrik. Hael het ook kol-kol skade veroorsaak. Ook hier kan nog sonneblom aangeplant word.”

Fourie sê toestande in OVK se bedieningsgebied was baie moeilik weens die droogte. Minder mielies en sojabone is aangeplant en opvolgreën is dringend nodig.

“In teenstelling met die westelike dele vertoon gewasse in Mpumalanga in die algemeen baie mooi. Die uitsondering is by Amersfoort en Morgenzon waar droogtestremming ervaar word. Erge hael het gewasse by Stofberg en Groblersdal erg beskadig.”

Fourie sê in KwaZulu-Natal vertoon gewasse in die algemeen mooi. Mielies wissel van baie jong saailinge tot in die saadstadium. In Noord-KwaZulu-Natal (Vryheid-omgewing) lyk dit baie belowend, maar by Bergville en Winterton is dit baie droog. Opvolgreën is oral in die provinsie nodig.

In Limpopo se noordelike besproeiingsgebied is daar ’n groot swaai weg van mielies en sojabone na katoen toe. Sy sê in droëlandgebiede het goeie reën sedert die begin van die jaar voorgekom en boere is volstoom besig om mielies en sorghum aan te plant. Nat lande vertraag aanplantings in sommige dele.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.