Teen druktyd het die sukkelende staalreus ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) ’n force majeure verklaar ná hitteskade aan ’n hoogoond hom sy aanleg in Newcastle tydelik laat sluit het. Force majeure is wanneer omstandighede buite ’n maatskappy se beheer hom verhinder om met bedrywighede voort te gaan. Dit is nog onseker hoe hierdie gebeure die plaaslike mark gaan raak, maar wat wel seker is, is dat voorraad op die oomblik knap is. Verskeie plattelandse ondernemings wat produkte soos hekke, krippe, doelgemaakte werktuie of diefwering vervaardig, sê hulle sukkel om voorraad te kry.

ONTOEREIKEND

“Daar is ’n tekort aan standaardysters; dit raak regtig moeilik,” sê mnr. Jannie Myburgh, ’n boer van Ermelo wat bekend is om die plaaswerktuie wat hy self ontwerp. “Daar was reeds twee prysverhogings die afgelope jaar vir die staal wat ek gebruik. Dit beloop saam ongeveer 16%. Die materiaalskaarste het sake ook vanjaar deurmekaar gekrap.”

Amsa kan eenvoudig nie voorbly om die mark te voorsien nie, sê mnr. Gerhard Papenfus, hoof van die nasionale werkgewersorganisasie van Suid-Afrika (Neasa). “Hy produseer nie genoeg nie. Intussen is daar staalondernemings wat raap en skraap om staal in die hande te kry. Hulle kan ook nie invoer nie, want die oomblik as jy invoer, betaal jy ’n bykomende 18%, wat die plaaslike bedryf eenvoudig nie kan bekostig nie.”

Neasa, wat die meeste werkgewers in die staalverwerkingsbedryf verteenwoordig, voer aan die hulp wat die regering aan Amsa in die vorm van tariewe op ingevoerde staal gee, geskied ten koste van die bedryf en klante soos boere, wat prysnemers is. Daarby gaan die nuwe staaltariewe van 10% wat die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) op bedekte platgerolde staal voorgestel het, waarskynlik mededingendheid in die plaaslike mark selfs verder inkort. Dit sal tot nóg hoër pryse vir plaaslike staal lei, sê Papenfus.

Kort voor druktyd het ’n groot belanghebbende in die mark, Duferco, ’n verskaffer van staal met ’n bedekkingslaag (coated steel), kennis gegee dat hy van 2021 nie meer staal aan die plaaslike mark kan voorsien nie. Duferco verkry sy staal van Amsa en volgens Papenfus het Amsa sy pryse tot só ’n mate verhoog dat Duferco nie meer kon byhou nie.

WERKGELEENTHEDE

Papenfus sê die onvolhoubare situasie in die staalverwerkingsbedryf roei werkgeleenthede uit. Onlangs het die 90 jaar oue Robor, eens een van Suid-Afrika se grootste verskaffers van staalpype, sy deure gesluit en moes 900 werknemers ’n ander heenkome soek.

Dié sluiting is wel ook deur ander faktore soos duur elektrisiteit en die wankelmoedige ekonomie beïnvloed, het die maatskappy in ’n verklaring gesê.

Die verswakking in die wisselkoers van die rand teen die Amerikaanse dollar moet ook deels die skuld kry vir die huidige staalprysverhogings, sê mnr. Jan-Abraham Strauss van Agri Shalom in Bloemfontein.“Die prysverskil op landbouwerktuie is miskien nie so groot nie, maar op groot staalstrukture wat 200 ton of meer weeg, is daar ’n beduidende verhoging.”

Papenfus waarsku egter ditraak nou op langer termyngoedkoper om ’n klaargemaaktestaalproduk in te voer,met rampspoedige gevolge virplaaslike vervaardigers, wat tot400 000 werkers in diens het.“As jy die voltooide produkinvoer, het jy net ’n paar ouensnodig om die goed op die rakkete pak en te verkoop. Die res salhul werk verloor,” sê Papenfus.