Volgens inligting op www.vleispryse.co.za, wat die pryse vir lewende hawe in die Noord-Vrystaat aanteken, het speenkalfpryse vir veral die kategorieë van 200 kg tot 250 kg lewende gewig en 250 kg of groter lewende gewig gestyg.

Die prys vir ’n speenkalf van tussen 200 kg en 250 kg lewende gewig was vandeesweek R31,51/kg en die prys vir ’n speenkalf van meer as 250 kg lewende gewig R27,77/kg. Die pryse wat verlede week vir dié gewigklasse aangeteken was, was onderskeidelik R30,60/kg en R26,99/kg.

Twee weke gelede het dié pryse op onderskeidelik R27,13/kg en R25,09/kg te staan gekom.

Die prys vir ’n speenkalf van minder as 200 kg lewende gewig was vandeesweek R34,96/kg. Dié prys het verlede week met sowat R5/kg tot R34,93/kg gestyg nadat dit twee weke gelede op R29,52/kg gestaan het.

Dié onderskeie stygings volg nadat speenkalfpryse van 15 Desember verlede jaar tot 15 Januarie met sowat 20% gedaal het. Dié daling het gevolg nadat pryse verlede Desember op ’n jaargrondslag ook met 20% gedaal het.

Verskeie faktore

“Dit is baie goeie nuus, maar ons is nie verbaas om dit te sien nie. Pryse verbeter gewoonlik dié tyd van die jaar,” sê mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

Hy sê vermoedelik is die stabilisering van pryse die gevolg van markkragte wat hul loop geneem het om ’n mate van balans te herstel, terwyl verskeie ander faktore ook tot die prysstyging bygedra het. Die situasie rondom die uitbreking van die bek-en-klouseer wat tans goed bestuur word, asook die optimisme wat die reënval van die afgelope tyd in die graan- en veebedryf meegebring het, moet ook nie vergeet word nie.

Die kleinhandel begin ook meer vleis aankoop in aanloop tot Paasfees en die vakansie. “Dan is daar ook veldtogte om Suid-Afrikaners aan te moedig om meer te braai, wat ’n verskil kan maak. Elke bietjie help,” sê Schutte. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.