Die Department van Landbou, Bosbou en Visserye het begin verlede week aangekondig dat bek-en-klouseer in die distrik Vhembe in Limpopo uitgebreek het. Sedertdien het die staat met die samewerking van die rooivleisbedryf taakspanne aangewys om Suid-Afrika se handelsvennote te oortuig om nie die invoer van rooivleis uit Suid-Afrika op te skort nie.
Volgens prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom en rubriekskrywer van Landbouweekblad, word tussen 2 000 ton en 3 000 ton rooivleis per maand uitgevoer.
’n R5 en R7 daling
Volgens prysinligting op www.vleispryse.co.za, wat die beste pryse vir lewende hawe in die Noord-Vrystaat aanteken, het die prys van speenkalwers van tussen 200 kg en 250 kg vanaf middel verlede maand tot vandeesweek met R5,92/kg gedaal. Die prys het op 15 Desember 2018 op R34,03/kg gestaan, en op 15 Januarie 2019 is ’n prys van R28,11/kg aangeteken.
Dié daling volg nadat speenkalwerpryse verlede maand op ’n jaargrondslag met sowat 20% gedaal het. Die prys vir dieselfde klas speenkalwers het op 15 Desember 2017 op R41,33/kg gestaan, en op 15 Desember 2018 het dit tot R34,03/kg gedaal.
Volgens markagente het die aankondiging rondom bek-en-klouseer ’n besliste uitwerking op die onsekerheid wat in die mark bestaan. Hulle meen egter dat dit tans ’n ideale kopersmark is vir veeboere wat weiding en kontantvloei beskikbaar het.
Droogte en graanpryse
Willemse sê die impak van die droogte en die styging in veral mieliepryse op die lewendehawemark moet nie uit die oog verloor word nie. “Dit het tans die grootste uitwerking op lewendehawepryse.”
Hy sê dat die mark teen einde 2017 begin herstel het ná die droogte van 2015-’16. “Mieliepryse was laer en die aanbod van diere op die mark was minder omdat boere weer hul kuddes begin bou het. Nou is die prentjie net omgekeer. Meer diere is weer op die mark.”
Die droogte het nie net ’n impak op beskikbare weiding nie. Dit raak ook graanaanplantings en gevolglik het dit ook ’n impak op die mielie- en voerpryse en boere se vermoë om voer aan te koop. Die mielieprys het die afgelope jaar met sowat 25% gestyg.
Willemse bereken voerkrale se gelykspeelprys vir speenkalwers staan tans op sowat R29/kg lewende gewig.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier