Netwerk24 berig ’n vroulike passasier is die afgelope naweek dood toe ’n bakkiebestuurder beheer oor sy voertuig verloor nadat dit op sprinkane op die N10 buite Upington gegly het.

Dr. Gerhard Verdoorn, hoof van bedryfsake en rentmeesterskap by Croplife SA, sê swerms kom veral in die Noord-Kaap voor, met groot swerms in die Bo-Karoo wat “soos botter oor die pad smeer”. Die swerms kom ook in die strook tussen Graaff-Reinet en Beaufort-Wes voor. Hy moedig mense aan om stadig te ry en hul voertuie se voorkant gereeld skoon te maak. 

Hierdie video van 'n reuse-swerm sprinkane is onlangs deur mnr. Abie Nel in die distrik Graaff-Reinet geneem.

Verdoorn sê die oostelike gedeelte van die Karoo word koel. In September kan nuwe swerms voorkom wanneer die eiers wat nou gelê is, uitbroei. “Tensy daar iewers ’n hittegolf kom, sal die eiers oorwinter. Die swerms sal aanhou om rond te beweeg, maar dit is onwaarskynlik dat nuwe swerms sal voorkom.”

Dit is dus uiters belangrik dat boere in September paraat sal wees en enige swerms by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moet aanmeld.

Verdoorn sê dit is moontlik dat daar in September selfs groter swerms kan wees. Die sprinkane kom aanvanklik in kolletjies voor. In die tweede seisoen kom hulle oor groter gebiede voor en in die derde seisoen sien ’n mens ’n massiewe uitbreking.

“In Namibië is daar tans ’n ontsaglike sprinkaanplaag omdat hulle gesit en slaap het hoewel hulle al die nodige meganismes het om sprinkane te bekamp. In Suid-Afrika het die meeste boere en die departement van landbou goed gereageer. As almal saamwerk, kan ons die uitbrekings bekamp en voorkom dat sprinkane skade vir gewas- en weidingsboere veroorsaak.”

Hy sê die Karoo beleef vanjaar aansienlike plantegroei en die grond is nat, daarom glo hy die sprinkane se impak op weiding sal nie so groot wees nie. “Ons is egter bekommerd dat hulle in die volgende seisoen na die gewasgebiede sal beweeg. As almal saamwerk, sal ons hulle kan stuit.”

Boere moet swerms so spoedig moontlik by die departement van landbou se kantoor in De Aar aanmeld deur 053 631 3122 of 053 631 3261 te skakel.

sprinkane
Philip Kemp het die sprinkane die week by Graaff-Reinet afgeneem
sprinkane,
Philip Kemp het die sprinkane die week by Graaff-Reinet afgeneem