Mnr. Petrus Boshoff, hoofbestuurder by Agri Noord-Kaap, sê groot uitbrekings is suid van die N8 en wes van die N12 aangemeld, vanaf Kimberley tot by Douglas, Hopetown, Britstown, De Aar en Upington.

Verdoorn sê wat hom oor die nuutste uitbreking bekommer, is dat die sprinkane vlieërs is wat amper gereed is om eiers te lê. As hulle genoeg eiers lê, gaan daar in Augustus ’n massiewe probleem wees.

Hy sê die uitbreking word aangehelp deur abnormale nat toestande wat die ideale toestande skep vir sprinkane om uit te broei en eiers te lê.

Boere in die Noord-Kaapse Karoo, die suidelike en westelike gebiede van die Vrystaat, die Oos-Kaapse Karoo, woestyngebiede en die Kalahari-gebiede in Noordwes is einde verlede jaar gewaarsku om op die uitkyk vir sprinkane te wees toe swerms bruinsprinkane in die Sentraal-Karoo versamel en na aangrensende gebiede in die Vrystaat begin versprei het.

Verdoorn sê hoewel daar genoeg insekdoder is om die uitbreking te bekamp en die spuitspanne knap is, blyk dit dat boere traag is om uitbrekings aan te meld.

Hy versoek boere wat sprinkane opmerk, om dit dadelik by die departement van landbou se sprinkanekantoor in De Aar aan te meld deur 084 760 8176, 053 631 3122 of 053 631 3261 te bel.