Me. Nomfundo Ntloko-Gobodo, hoofgrondeisekommissaris, het aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling erken dat nadere ondersoeke aandui dat die onafgehandelde eise meer is as wat aanvanklik weergegee is.

Altesame 7 743 grondeise moet nog afgehandel moet word. Die kommissie het in 2017 aangedui dat 6 989 eise onafgehandel is. Dit is uit sowat 80 000 wat einde Desember 1998 ingehandig is.

Ntloko-Gobodo het verduidelik dat die kommissie besig is om sy administratiewe en besigheidsprosesse te hersien om ou eise vinniger af te handel. Hierdie proses word projek Kuyasa genoem. Dit is gedurende hierdie proses waar gevind is dat daar meer onafgehandelde eise is as wat voorheen aangedui is.

Van die 7 734 onafgehandelde eise is 695 in die Oos-Kaap, 5 in die Vrystaat, 441 in Gauteng, 51 in die Noord-Kaap, 37 in Noordwes, 495 in die Wes-Kaap, 1 192 in Limpopo, 1 412 in Mpumalanga en 3 415 in KwaZulu-Natal. Ntloko-Gobodo het egter benadruk dat hierdie syfers weer kan verander omdat daar nog verifiëring plaasvind. ’n Eksterne oudit sal gedoen word om die finale syfers weer te gee.

Sy het gesê dat ook gekyk is na die onderliggende redes wat ’n agterstand in die afhandeling van eise meebring. Daar is gevind dat provinsies verskillende kwessies met die eisproses ondervind het, wat daartoe gelei het dat verskeie verwerkingsmodelle gebruik is. Daar is ook nie ’n elektroniese stelsel om eise se vordering na te spoor nie.

Kapasiteitstekorte in die kantoor van die grondwaardeerder-generaal vertraag ook die afhandeling van eise. Dit duur lank om eise op staatsgrond af te handel weens verskeie regeringsprotokolle wat gevolg moet word.

Die kommissie se las sal nou ietwat ligter wees met die nasorgfunksie van grond wat aan die departement van landbou oorgedra is, het mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aangedui.

Navorsing

’n Groot fout wat die kommissie erken hy gemaak het, is om nie eise behoorlik na te vors nie.

Landbouweekblad berig sedert 2015 dat een van die onbevoegdhede van die kommissie is dat sy navorsingspan nie oor die vermoë beskik om die eise voldoende na te vors nie.

Junior personeel van die departement, wat nie agtergrond in navorsing het nie, is gebruik om navorsing te doen oor die geldigheid van grondeise. Die kommissie het later met universiteite in die land geskakel om die personeel opleiding te gee.