’n Styging van 52% in lone vir plaaswerkers sedert 1 Maart 2013 plaas tans groot druk op baie boere. Talle boere het reeds aangedui dat hulle werkers moet aflê om te kan oorleef.

Mnr. Mdu Shabane, Direkteur-generaal van die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, sê arbeid is tans ’n netelige kwessie met werkers, werkgewers en produktiwiteit wat in ag geneem moet word.
 
Shabane het vanjaar op Graan SA se kongres gesê die staat sal lei deur infrastruktuur te verskaf, en dat die sakesektor – wat die landbou insluit - moet lei deur werksgeleenthede te skep. In reaksie op ’n vraag oor hoe die staat lei met dié drastiese loonsverhoging, het Shabane gesê ondanks dié skok meen hy die sektor sal werk kan verskaf, en meer werk sal die bedryf bevoordeel.
 
Nie haalbaar nie
Dr. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, het aan ’n debat op die kongres deelgeneem. Op ’n vraag oor of dit steeds moontlik is om een miljoen werksgeleenthede in die landbou te skep, soos wat die Nasionale Ontwikkelingsplan vra, was sy antwoord: “Nie in dié toestande nie, nee!”
 
Meyer het aan Shabane gesê beleide wat tot voordeel van die staat én die bedryf is, is nodig, want soos die situasie tans daaruit sien, strook arbeidsbeleide en die mikpunt vir werksgeleenthede nie. “Die staat moet die feite op die tafel baie versigtig oorweeg.”
 
Grondoudit
Op ’n vraag uit die kongres oor wanneer die grondoudit afgehandel sal wees, het Shabane gesê dit is reeds afgehandel, maar spesifieke inligting moet nou op gefokus word. Volgens die departement se oudit is 79% van die land se grond in private besit, maar dit is nog nie duidelik watter dele in blanke, swart of buitelandse hande is nie. Dit moet nou bepaal word.
 
Ten opsigte van die grondkwessie, het Shabane ook gesê die staat werk tans met Graan SA saam aan ’n nasionale voedselproduksieplan. Dié plan fokus spesifiek daarop om die produktiwiteit van die sowat 1,5 miljoen mense wat voorheen deel van die tuislande was, te bepaal.
 
Lees binnekort meer in Landbouweekblad hieroor.