Mnr. Charl Senekal, een van die grootste suikerrietverskaffers in die Suidelike Halfrond, met ’n werksmag van 1 200 in die Mkuze-omgewing in Noord-KwaZulu-Natal, sê daar kan nie van werkers verwag word om kilometers te voet af te lê om by ’n inentingsentrum uit te kom en in die proses ook lank weg te bly van die werk nie.

“Hulle weet ook nie hoe om te registreer nie en het nie dinge soos rekenaars en televisies nie. Die meeste van hulle verstaan nie eens Engels nie. Die regering moet báie meer moeite doen om mense in landelike gebiede in te lig. Die meeste verstaan nie wat covid-19 is en hoe die reëls en regulasies werk nie,” sê Senekal.

“Die landbou is tans die bes presterende afdeling in Suid-Afrika. Dit help ons ekonomie aan die gang hou en ons het die afgelope paar maande ’n groeikoers van 15% gehad.”

Rondreisende hulp

Mnr. Johannes Loubser van Fair Cape Dairies, een van die grootste melkprodusente in die Wes-Kaap, sê die ideaal is ’n rondreisende kliniek wat van plaas tot plaas gaan en werkers voorlig én inent.

“Baie van hulle is bang en verstaan nie die virus en hoe die inentings werk nie. Verder is dit ’n omslagtige proses. Ek en my vrou is albei in die vyftig en het nou vir ons inentings gegaan en dit vat maar tyd. Dit sal nie prakties moontlik wees om dieselfde met ons werkers te doen nie en baie van hulle is nog jonk.”

Die ander kwessie is dat mense wat by ’n melkboerdery werk, elke dag baie na aan mekaar werk vir 24 uur van die dag.

“Dis nie ’n bedryf waar dit moontlik is om afstand te handhaaf indien daar ’n krisis is nie. Koeie moet elke dag drie keer gemelk word, gevoer word en kalfies word gebore.

By een van ons plase het die plaasbestuurder en sy vrou nou siek geraak met covid-19 en dis ’n gemors, want hulle moet afsonder en ek moet bontstaan om oral uit te kom. Dis regtig belangrik dat die landbou so gou moontlik geprioritiseer word,” sê Loubser.

Ontbeantwoord

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê hulle het al in Februarie in ’n skrywe aan die minister van gesondheid gevra dat plaaswerkers as prioriteitsgroep oorweeg moet word vir inenting teen covid-19, wat nooit beantwoord is nie.

“Plaaswerkers verrig ’n nood- saaklike diens en is sedert die begin van die inperking as sodanig verklaar.” Die organisasie sê potensiële blootstelling van werkers aan covid-19 is baie groot.

“Ons kan nie bekostig dat plase in kwarantyn geplaas word indien daar ’n covid-19-uitbreking is nie. Dit is noodsaaklik om die voedselkettings en produksie in stand te hou.”