Die trust se raad het dié boodskap aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming voorgehou.

Die raad het die afgelope tyd pogings aangewend om bestaande grondregte van inwoners na huurpag oor te skakel sodat hy sy geldkoffer kan aanvul, maar die komitee het dit tydelik stopgesit.

Volgens die raad is sy uitgawes meer as R40 miljoen en die Regering staan net R20,87 miljoen aan die instansie toe.

Lede van die portefeuljekomitee het die raad op ’n vorige vergadering daarvan beskuldig dat hy mense van hul grond wil ontneem sodat hy huurgeld kan bekom.

Koning Goodwill Zwelithini is die enigste trusteelid van die Ingonyama-trust en die grootste grondeienaar in KwaZulu-Natal. Nagenoeg vier miljoen mense woon op die trustgrond.

Raad sê dat selfs boedels sloer

Met die portefeuljekomitee wat die omskakeling van inwoners se grondregte stopgesit het, sê regter Sipho Ngwenya, voorsitter van die raad, dat boedels nie afgehandel kan word nie. Hy het genoem dat ’n aansoek ontvang is dat die grond van ’n oorledene aan sy seun oorgedra moet word, maar dat dit onmoontlik is weens die staking van die proses.

Dit het me. Thandeka Mbabama, die DA se adjunk-skaduminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, aangespoor om te vra of hierdie nie die geleentheid bied om ’n titelakte aan die familie toe te staan nie.

Ngwenya het geantwoord dat die Ingonyama-trust nie geld het om die duur grondwaarderings te doen nie en dat die Regering dié soort uitgawes kan bekostig. Hy het die gesloer met titelaktes voor die deur van die Regering gelê deur te vra waarom die staat dit nie reeds lankal gedoen het nie.

Die rede wat die trust vir die omskakeling na huurpag voorhou, hou verband met ’n saak van die kantoor van die premier in KwaZulu-Natal. Dié kantoor het ’n saak verloor oor die toestaan van behuisingstoelaes aan regeringsamptenare wat in landelike gebiede bly. Die provinsiale regering en die vakbond het gevra dat langtermyn-huurooreenkomste in ooreenstemming met die behuisingsbeleid ingestel word.

Geen omskakeling van bestaande grondregte het nog plaasgevind nie.