Die agriparke-inisiatief is in 2015 van stapel gestuur om die nodige infrastruktuur vir die verwerking van landbouprodukte daar te stel om aan opkomende boere beter marktoegang in die land se 44 armste distrikte te bewerkstellig.

Altesaam 70% van die agriparke in die land is in die hande van dié boere en die res word deur die Regering en kommersiële boere besit. Die verwagting is dat agriparke sal bydra tot die Regering se teiken om ’n miljoen werksgeleenthede in landelike gebiede teen 2030 te skep, 300 000 nuwe kleinboere te ontwikkel en 145 000 werksgeleenthede in die landbouverwerkingsbedryf teen 2020 te verwesenlik.

Volgens die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming bied 23 agriparke reeds landboukernsentrums en produksie-ondersteuningseenhede vir boere wat op verskeie vlakke van ontwikkeling is. Die sentrums sal na verwagting teen die 2019-’20-boekjaar voltooi word. ’n Landboukernsentrum bestaan uit ’n produksie-, verwerkings-, verpakkings-, logistieke, innoverings- en opleidingseenheid.

Die agriparke wat nou voorkeur kry, is sluit ’n melkery in die distriksmunisipaliteit Chris Hani in Ncora in die Oos-Kaap in. In Mpumalanga word gekonsentreer op ’n varsproduktemark by Bosbokrand. By Springfontein in die Vrystaat sal die kernsentrum ’n abattoir vir die uitvoermark wees.

Witzenburg in die Kaapse wynland is geoormerk vir grootmaatenergie-infrastruktuur wat elektrisiteit aan plaaswerkers se behuising en aan landboukernsentrums moet lewer. By Rietkuil in Gauteng word gekonsentreer op die produksie van groente, pluimvee en rooivleis, terwyl grond by Ugu in KwaZulu-Natal geoormerk is vir die verwerking van groente, subtropiese vrugte en essensiële olies.

By Nwanedi in Limpopo word gekonsentreer op advokado’s en groente, terwyl die landboukernsentrum by Kuruman in die Noord-Kaap toegespits sal wees op die produksie van gelatien, vleisverwerking en ’n leerlooiery vir die maak van meubels en skoene.

Begroting

Altesame is R2 miljard vir die oprigting van die agriparke opsygesit. In die 2015-’16-boekjaar is R5,2 miljoen bestee, en die twee daaropvolgende geldjare onderskeidelik R26,9 miljoen en R85,5 miljoen. Die oprigting van die parke het egter in die departement se begroting ingevreet.

Dr. Aninka Claassens, senior navorser aan die departement publiekreg aan die Universiteit van Kaapstad, het onlangs in die Parlement gesê dat die departement ’n groot deel van sy begroting vir grondhervorming hertoewys aan projekte soos agriparke, pleks daarvan om dit aan te wend vir die aankoop van grond vir herverdeling.

Claassens was deel van die onafhanklike hoëvlakpaneel onder leiding van oud.pres. Kgalema Motlanthe, wat ondersoek ingestel het na die doeltreffendheid van sleutelwetgewing wat die Parlement sedert 1994 gepromulgeer het.

In die 2016-’17-boekjaar is die grootste deel van die departement se begroting vir landelike ontwikkeling aan agriparke afgestaan. Een van die paneel se bevindinge was dat die aankoop en herverdeling van grond sedert 2009 gedaal het omdat die beskikbare begroting vir aanvullende ondersteuningsprogramme moet voorsiening maak.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.