Die staat van inperking, wat weens die voorkoms van die koronavirus in die land op 26 Maart ingestel is, sou aanvanklik tot middernag op 16 April duur. Die verlenging beteken dat die huidige inperkingsmaatreëls van krag sal bly.  

Die landbousektor wat ’n noodsaaklike diens is om voedselsekerheid te verseker, is van die inperking uitgesluit.

Ramaphosa het die nasie geloof vir onder meer hulle samewerking en geduld terwyl hy Suid-Afrikaners bedank het dat hulle aan mekaar en die wêreld bewys het dat hulle inderdaad ’n nasie is wat saamstaan ten tye van groot krisis.

Hy het dit duidelik gemaak dat indien die inperking te vroeg gestaak sou word, al die vordering wat die afgelope paar weke gemaak is om die verspreiding van die koronavirus te probeer beperk, tot niet mag wees.

Sedert die inperking in werking getree het, het die koers waarteen nuwe gevalle in die land geïdentifiseer is, beduidend vertraag.

Vanaf 1 170 bevestigde gevalle op 27 Maart, is 1 934 gevalle teen 9 April bevestig.

“In die twee weke voor die inperking was die daaglikse toename in nuwe gevalle rondom 42%. Sedert die begin van die inperking is die daaglikse toename rondom 4%.” Ramaphosa sê dit is ’n bewys dat die maatreëls wat ingestel is resultate toon. “Maar die stryd is nog lank nie verby nie. Ons kan nie ontspan nie. Of selfvoldaan wees nie.”

Die regering gaan in die volgende paar dae evalueer hoe hy aangepaste risiko maatreëls gaan aanpak om die ekonomie in fases te begin herstel, deurdat sekere sektore onder baie streng beheerde voorwaardes weer in bedryf gebring sal word.

Hier is pres. Cyril Ramaphosa se volledige toespraak.