Die beraad is deur adv. Niel Taljaard en die Komga-boerevereniging met die samewerking van Landbouweekblad gereël. Dit het gevolg op die gunstige uitkoms van Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad op Bela-Bela op 23 en 24 Augustus, waar meer as 60 boere hul stories vertel het van onder meer projekte wat reeds werk. Stories van geslaagde projekte en modelle van grondhervorming en transformasie is ook op die beraad op Haga-Haga vertel.

Zokwana het boere in sy toespraak geloof vir die inisiatief en gesê dit kan nie op ’n beter tyd kom nie.

Hy het gesê voedselsekerheid is die Regering se vernaamste mikpunt. Swart en wit boere moet saam kos vir die land moet produseer. “As jy slegs ’n deel van jou grond gebruik, moet jy bereid wees om met die Regering te praat om die grond beskikbaar te stel vir projekte waardeur voedsel geproduseer word.”

Zokwana het gesê hy hoop die tipe forums sal steeds gehou word.

Ongelykheid moet krimp

Die hoofspreker op die beraad, mnr. Roelf Meyer van die In Transformation Initiative, het gesê ongelykheid is die wortel van die huidige probleme en dat die debat rondom grondhervorming en oplossings nodig is om die gaping kleiner te maak.

Volgens Meyer is groei en werkskepping noodsaaklik vir groei in die land, maar die verandering moet op lang termyn meer fundamenteel wees. Hy het gesê Suid-Afrika kan baie leer uit die onderhandelinge wat voor 1994 plaasgevind het. Volgens Meyer was die oorgang gegrond op inklusiwiteit, vertroue en eienaarskap. Dit kan herhaal word.

“Ons kan die proses begin met diep dialoog met mekaaar. Ekonomiese groei en grondhervorming is noodsaaklik en ons moet ’n gebalanseerde benadering hê om dit aan te pak.”

Rivier in Serengeti

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het die analogie van wildebeeste wat voor ’n rivier in die Serengeti staan, gebruik om die proses van grondhervorming te beskryf. “Ons kort een of twee wildebeeste wat inspring sodat die res sal volg, al is daar gevare in die water. Want ons moet aan die ander kant kom aangesien dit hier droog en die leeus op ons spoor is. Die ou bulle wat sê grondhervrming gaan nie werk nie . . . Die leeus gaan hulle opvreet.”

Volgens De Villiers kort Suid-Afrika nou die kalwers wat gebore is aan die kant waar die reën geval het en die gras groener is. “Daar is geen ander sektor buiten die landbou wat die land kan gesond maak nie, maar ons sal dapper stappe moet doen.”

Hy het gesê die Oos-Kaap is die enigste gebied in Suid-Afrika wat kan instaan vir die grond wat in Mpumalanga weens mynbou verloor is. Dit sal Suid-Afrika in staat stel om steeds ’n surplus mielies te produseer, terwyl dit ook noodsaaklike geleenthede in die kommunale gebiede kan ontsluit.

Hy het gesê al het boere nie ekstra grond of hulpbronne nie, kan hulle steeds mentors wees vir nuwe boere. “Die vaardighede wat jy by jou pa en oupa geleer het, is iets wat jy maklik kan oordra. Dit is iets wat jy nie kan verloor nie en iemand anders kan daaruit bevoordeel word. Dit is hoe ons die land gesond kan maak.”

In sy spreukbeurt het mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, gesê boere kan by mekaar leer uit die stories wat op die beraad vertel word. Die vraag is nie hoe om grondhervorming aan te pak nie, maar wat die oogmerk daarmee is.

Volgens Strydom benodig boere soms ’n krisis voordat hulle kan vooruitbeweeg. “Ons het gedink die hele proses gaan ons terugsit, maar dink net aan die gevolge indien dit andersom is.”

Plaaslike stories wat werk

Verskeie sprekers wat hulle stories tydens die grondberaad op Bela-Bela vertel het, het weer die kans gekry om hul stories te vertel. Dit het spekers soos mnre. Gerrit van Vuuren van Pals, Jeff Every van Amadlelo Agri, Christo Joubert van die Grasslands-ontwikkelingstrust (GOT) en me. Judy Stuart van Future Farmers ingesluit.

Sprekers van plaaslike streeksprojekte, soos Frontier Bonsmara, Ncea-makadamiaboerdery, Eden Agri Sitrus en GZ Farming Enterprise kon ook hul suksesverhale vertel.