Die departement het versoeke van die departemente van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en van Menslike Nedersettings gekry om ongebruikte staatsgrond beskikbaar te stel vir landbouproduksie en behuising. Die Regering het bykans 30 000 stukke grond wat meestal deur staatsdepartemente gebruik word, asook meer as 93 000 geboue geïdentifiseer.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede gesê dat staatsgrond vir herverdeling beskikbaar gemaak sal word as deel van pogings om grondhervorming te versnel. Die grond daarvoor is reeds geïdentifiseer.

Mnr. Thulas Nxesi, Minister van Openbare Werke, het gesê dat 3 659 eiendomme aangewys is wat vir boerdery aangewend kan word. Die departemente van Landbou, Bosbou en Visserye en van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is gelas om lewensvatbaarheidstudies te doen rakende die geskiktheid van die betrokke grond vir landbouproduksie.

Grond vir behuising is ook reeds geïdentifiseer. Cronin, wat grootliks gemoeid is met onteieningswetgewing, benadruk dat grond vir ontwikkeling slegs aan munisipaliteite toegestaan word wat behoorlike ontwikkelingsplanne voorlê. Sodoende wil die staat verseker dat die grond gebruik word vir die doel waarvoor dit toegestaan is.

Restitusiegrond

Altesaam 539 stukke staatsgrond is geoormerk vir restitusie-eise.

Me. Sasa Subban, adjunkdirekteur-generaal by die Departement van Openbare Werke, het aan die Parlement se portefeuljekomitee vir openbare werke gesê dat ooreenkomste vir oordrag van 261 stukke grond, wat 141 606 ha beslaan, reeds afgeteken is. Die departement is die voog van hierdie grond.

Altesaam 43 van die stukke grond is in die Departement van Openbare Werke se besit, 55 is by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, 101 by provinsiale departemente van openbare werke, 43 is in private besit, een is by die Departement van Water en Sanitasie en 18 stukke grond moet nog nagegaan word. Subban sê die departement beoog om 98 eise teen die einde Maart af te handel. ’n Verdere 100 eise sal teen 31 Maart 2020 afgehandel wees, met nog 100 eise wat volgens beplanning teen 31 Maart 2021 afgehandel sal word.

Altesaam 278 eise op die 539 stukke staatsgrond – wat 267 636 ha beslaan – moet nog deur die verifikasieproses gaan en goedgekeur word. Van hierdie grond is 158 stukke by die Departement van Openbare Werke, 43 by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, 18 by provinsiale departemente van openbare werke, tien is in private besit en 49 moet nog nagegaan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.