Die verwysingsprys is onlangs van $566 tot $680 verhoog. Die bedryf het aansoek gedoen vir ’n verwysingsprys van $856. Die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (Sasa) het in sy aansoek aan die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie Administrasie (Itac) gesê die bedryf kort dringende beskerming vir die koste van plaaslike produksie omdat ander lande se subsidies aan suikerrietboere die wêreldsuikermark verwring.

Mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van Sasa, sê Itac het nie daarin geslaag om voldoende beskerming van suikerprodusente te bied in die lig van dié werklikhede nie.

Die wysigings aan die verwysingsprys is geldig tot Augustus 2021. Die bedryf sal dus nou ’n nuwe aansoek by Itac moet bring vir die hoër verwysingsprys.

Gevolge vir die bedryf

Trikam waarsku dat ernstige gevolge die plaaslike suikerbedryf oor die volgende 12 maande kan tref as ’n wysiging eers oor drie jaar kom.

Altesaam 14 suikermeule sal nie op volle kapasiteit loop nie.

Werkgeleenthede sal verder afneem.

Boere sal nie winste maak nie.

Suikerrietkwekers sal na ander gewasse oorskakel.

Minder suikerriet sal beskikbaar wees en meulenaars sal hul ondernemings moet afskaal vir die komende seisoen.

Binne drie jaar sal daar nóg meer skade wees, sê hy. Selfs al is daar ’n beduidende verbetering in die wêreldmarkprys vir suiker, bly die rand swak en beperk die bedryf sy kostestygings tot 5% per jaar, is ’n insinking steeds onvermydelik.

Aanplantings sal met 40 000 ha en suikerproduksie met sowat 240 000 ton verminder aangesien meulenaars hul blootstelling aan lae wêreldmarkpryse sal wil beperk.

Die sluiting van twee meule sal 9 500 regstreekse en 39 000 onregstreekse werkgeleenthede verlore laat gaan.

Boonop sal die bedryf meer as 5 000 kleinskaalse suikerrietkwekers verloor. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.