Genl.maj. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van TLU SA, het tydens die organisasie se bekendstelling van sy halfjaarlikse plaasaanvalsyfers gesê plaasaanvalle het in die afgelope dekade met 60% gestyg. Benewens plaasaanvalle is daar egter ook ander vorme van landelike misdaad wat die landbou se ekonomiese volhoubaarheid bedreig.

“In die vorige boekjaar (2017-’18) was die beraamde verliese weens veediefstal R1,1 miljard. Daar is ook berigte dat tot 3 ton mielies per dag in sekere dele gesteel word. Voeg daarby ander vorme van diefstal, soos gereedskap, brandstof, werktuie en chemikalieë, en dit is duidelik ons het hier te doen met ’n probleem wat aansienlik groter is as wat ons aldag wil erken.”

Van 2010 tot vanjaar het 2 616 plaasaanvalle reg oor die land plaasgevind. In hierdie tydperk was daar 586 plaasmoorde. Volgens TLU SA se amptelike voorvalleregister wat sedert 1990 bygehou word, is 2 022 mense in die boerderygemeenskap sedert 1990 vermoor. Altesaam 5 148 aanvalle is in hierdie tydperk aangemeld.

Van Zyl het sy kommer uitgespreek oor die gesofistikeerde en wrede wyse waarop plaasaanvalle plaasvind.

Hy het gesê plaasaanvalle word duidelik aan die grondvraagstuk gekoppel. “TLU SA is bewus dat misdaad reg oor die land buite beheer is, met 56 moorde wat daagliks gepleeg word. Die hoë vlakke van geweld en doelgerigte marteling in plaasaanvalle en -moorde is egter wat die misdade van ander geweldsmisdade onderskei. Die aantal suksesvolle aanvalle wat uitgevoer is, het by verre die mislukte aanvalle oorskry.” 

Stygende neiging?

Volgens dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies, was daar die afgelope ses jaar ’n styging van 17% in moorde. Meer as 20 000 mense is in die 2017-’18-boekjaar vermoor, volgens die jongste beskikbare misdaadstatistieke van die polisie. “Hierdie tydperk van ongeveer 2011 tot nou val saam met die staatskapingsperiode. Daar is ’n duidelike verband tussen die kaping van die staat en strafregstelsel, en die verhoogde misdaadvlakke. Plaasaanvalle en die erns daarvan stem in ’n groot mate ooreen met die algemene moordsyfer in die land.”

Burger het gesê die skade wat deur die staatskapingsproses veroorsaak is, sal nie skielik ongedaan gemaak kan word nie. “Ons gaan waarskynlik vir die volgende twee, drie jaar hierdie stygende neigings in misdaad sien. Dit gaan nog slegter gaan voor dit beter gaan. Staatskaping en die kaping van die strafregstelsel het Suid-Afrika uit ’n misdaadoogpunt ongelooflike skade berokken.”

Dr. Llewellyn Curlewis, prokureur en dosent aan die Universiteit van Pretoria, het gesê dit is belangrik vir die boeregemeenskap om te weet wanneer en hoe om op te tree en wat die gevolge van hul optrede tydens ’n plaasaanval is.

“Daar kan aangevoer word dat iemand uit noodweer opgetree het om hom- of haarself te beskerm, waardevolle eiendom of iemand anders te beskerm tydens ’n plaasaanval, mits aan sekere vereistes voldoen word. Dit sluit in dat ’n aanval wederregtelik en gerig teen ’n beskermingswaardige belang, asook ’n werklike, onmiddellike dreigende gevaar moet wees. Dit is ook belangrik dat die minimum geweld in so ’n situasie gebruik moet word.”

Van Zyl het gesê TLU SA het in Mei ’n baie suksesvolle gesprek met genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, gehad. ’n Opvolggesprek vind aanstaande maand plaas, waartydens TLU SA wil hê aandag moet geskenk word aan ’n landbouvriendelike reservistestelsel, die plaaslike integrasie van beskikbare bronne, die herbevestiging van plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade en landbouveiligheid pleks van plaasaanvalle.

TLU SA,
Van links: Dr. Llewellyn Curlewis, Genl.maj. Chris van Zyl, mnr. Henry Geldenhuys (ondervoorsitter van TLU SA en voorsitter van die veiligheidskomitee), mnr. Louis Meintjes (voorsitter van TLU SA) en dr. Johan Burger. Foto: Annemarie van Burick

Register 

TLU SA se amptelike voorvalleregister word sedert 1990 bygehou. Dit wys:

1 125 plaasaanvalle is van 1990 tot 1999 aangemeld.

1 407 plaasaanvalle is van 2000 tot 2009 aangemeld (’n styging van 22%).

2 616 plaasaanvalle is van 2010 tot 2019 aangemeld (’n styging van 60%).

Totale moorde: 2 022

Totale aanvalle: 5 148

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.