Nadat pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in die parlement met meer as ’n uur vertraag is, het hy vroeg in sy toespraak die kwessie van die sukkelende Eskom aangepak. “Die beurtkrag van die afgelope paar maande het ’n verlammende effek op ons land gehad. Dit het ons pogings om die ekonomie te herbou en werk te skep baie teruggesit.”

Hy het gesê die werklikheid moet aanvaar word dat beurtkrag ’n moontlikheid vir die onmiddellike toekoms sal bly terwyl Eskom die nodige onderhoud doen om die betroubaarheid van elektrisiteitvoorsiening te verbeter.

Om Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsieningskapasiteit te verhoog, sal ’n ministeriële direktief binnekort uitgereik word ingevolge die geïntegreerde hulpbronplan (IRP). Dit sal die ontwikkeling van bykomende kragkapasiteit deur herwinbare energie, gas, hidro-elektrisiteit, batterye en steenkool moontlik maak.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) sal verseker dat alle aansoeke deur kommersiële en nywerheidsverbruikers wat meer as 1 MW elektrisiteit vir eie gebruik genereer, binne 120 dae verwerk word.

Daar sal ook ooreenkomste aangegaan word om bykomende krag van bestaande sonkrag- en windaanlegte te bekom. Maatreëls sal ingestel word sodat munisipaliteite wie geldsake gesond is, krag van onafhanklike energieproduseerders kan bekom.

Hy het bevestig dat Eskom in drie bedryfsdele verdeel sal word, naamlik opwekking, transmissie en verspreiding. Elkeen sal sy eie direksie en bestuurstrukture hê.

Om nuwe beleggings te lok, sal Suid-Afrika sy derde beleggingskonferensie in November hou.

In die eerste twee jaar van hierdie poging om beleggings te lok, is R664 miljard se verbintenisse vir belegging gesmee. Dit is meer as die helfte van die teiken van R1,2 biljoen wat vir vyf jaar gestel is.

Landbou

Wat die landbou betref, het Ramaphosa gesê dat die regering gereed staan om ’n wysigingswetsontwerp op onteiening ter tafel te lê nadat die parlement se proses rondom die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet voltooi is. Dit sal die omstandighede aandui waaronder die onteiening van grond sonder vergoeding toelaatbaar sal wees.

Die regering het reeds 44 000 ha staatsgrond vir restitusie toegestaan en sal vanjaar sowat 700 000 ha staatsgrond vir landbouproduksie beskikbaar maak. Voorkeur sal gegee word aan die jeug, vroue, mense met gestremdhede en diegene wat op kommunale grond boer.

cyril ramaphosa,
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Voorts sal begunstigdes van grondhervorming verpligte opleiding moet ondergaan voordat die regering grond aan hulle sal toestaan.

Rakende waterlisensies het Ramaphosa gesê die tyd is verby dat jare daarvoor gewag moet word. “Ons kan aankondig dat waterlisensies nou binne 90 dae uitgereik sal word.”

Dagga

Die regering gaan hom daartoe verbind om die kommersialisering van hennep te verwerklik. Ramaphosa het gesê die regulasies vir die kommersialisering van hennep sal nog vanjaar afgehandel word. Die bedryf sal onder meer veral vir kleinskaalse boere geleenthede bied.

Landbouweekblad het verlede jaar berig dat riglyne vir die kommersialisering van hennep reeds opgestel is, maar dat dit nog deur die regering goedgekeur moet word. Dit is bekend dat die Landbounavorsingsraad langer as 20 jaar navorsing gedoen het oor die kweek van dié plant vir die gebruik van sy basvesel vir medisyne en tekstiele. Hy het die kultivars SA Hemp1 en SA Hemp2 ontwikkel. Proewe met die plante het die beste in die Oos- en Wes-Kaap gevaar.