“Suid-Afrika is vasgevang in die ANC, SAKP en Cosatu se ideologiese net wat met verloop van tyd ’n bepaalde beleidsomgewing geskep het waarmee alles moontlik gedoen is om die ekonomie te skaad,” sê Meintjies. “Die ANC se blaf raak nou uitgedien. As sy byt nie aan kundigheidsbenutting en die etiese toepassing daarvan gekoppel is nie, sal sake maar net op die korrupte manier aankarring.”

Meintjies sê hoewel Ramaphosa “wonderlike planne het om sosiaal-ekonomiese probleme met ‘slimstede’ op te los”, is Suid-Afrika se jeugwerkloosheidsyfer 50%. “Die oplossing is nie om net meer opleiding te verskaf en entrepreneursprogramme aan te bied nie,” sê Meintjes. “As daar geen beleggers in die land is nie, is daar geen werk nie. As arbeidswetgewing dit onmoontlik maak om ’n besigheid op die been te bring sonder om korrupte bande met die regte mense te hê, is daar geen werk nie. As besighede dit nie kan bekostig om mense in diens te neem nie, is daar nie werk nie.”

Hy meen die oplossing is om te belê in bestaande kundigheid en die oordrag daarvan. “Daar is deurlopend verskeie instellings en individue met besonderse kundigheid en ervaring wat aanbied om te help om Suid-Afrika weer op koers te kry,” sê Meintjes. “Hierdie hulp sal lei tot ekonomiese groei, wat uiteindelik sal bydra om werkloosheid en armoede te bekamp. Maar dit blyk of die ANC eerder verkies om die land ekonomies heeltemal te sink met geykte retoriek.”

Meintjies sê dit is belaglik van die regering om in een sin te sê dat grondhervorming (deur onteiening sonder vergoeding) versnel sal word én dat landbouproduksie verhoog sal word. “Dit kan nie albei wees nie. Miskien het die ANC reeds self te veel van die hennep-produkte wat die landbou glo gaan versterk, getoets.”

Ramaphosa se droogteplanne is volgens Meintjies ook nie voldoende nie. “Ons is dankbaar oor strategieë om rampe soos droogte teen te staan,” sê hy. “Maar, gaan hulp weer net by sekere boere uitkom, soos wat gebeur met droogtehulp? Gaan dit weer te laat by boere uitkom, sodat diere en werkers van honger vergaan?”

Hy sê die koers wat die ANC inslaan, is gedoem tot ekonomiese mislukking. As die ANC homself nie verbind tot die ekonomiese beginsels wat wêreldwyd bewys het dat dit groei bring nie, is die staatsrede en wat die ANC daarna gaan doen, van geen waarde vir Suid-Afrika en sy inwoners nie. “Woorde wek, maar voorbeelde trek, mnr. Ramaphosa.”