Ramaphosa lewer vanaand sy vierde staatsrede by die parlement in Kaapstad.

Ná al sy voornemens in verlede jaar se staatsrede blyk dit eerder of die land agteruitboer, sê mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. Van die beloftes oor die vier mees kritieke kwessies – ekonomiese transformasie, werkskepping, onderwys en gehalte-dienslewering – het net mooi dadels gekom. “Dis tyd vir optrede. Ons moet ’n paar groot ‘wêreldbekers’ wen om die land se verswakkende ekonomiese groei en gebrek aan dienslewering om te draai.”

Mnr. Christo van der Reede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê mense is moeg vir die gepraat en wil sien dat iets gedoen word – en dat Ramaphosa leierskap begin toon. “Agri SA se planne is gereed om die ekonomie vorentoe te vat en risiko’s te bestuur, maar die regering se gebrek aan politieke wil om uitvoering te gee aan sy ondernemings skep groot frustrasie in die landbousektor en die ekonomie in geheel.”

Mnr. Louis Meintjies, president van TLU SA, sê die ANC se drome vir Suid-Afrika het sedert die laaste staatsrede in ’n nagmerrie vir die land ontaard. “TLU SA is nie in die posisie om die staatsmiddele aan te wend in belang van die inwoners van die land nie, maar die regering is wel. Die bal is in u hande, mnr. Ramaphosa. Die ekonomie wag om te kyk hoe die spel gaan afloop. Maar om voort te gaan op die reeds bewese mislukte ideologiese pad sal armoede en werkloosheid net verder laat styg.”

Albei organisasies het verskeie fokuspunte geïdentifiseer waaraan Rampaphosa dringend aandag moet gee, onder meer nasionale prioritisering van droogteramphulp, landelike veiligheid, werkskepping, die toepassing van volhoubare landbou-ontwikkeling en die verbetering van staatsinstellings.

Agri SA versoek ook dat die nasionale vervolgingsgesag diegene vervolg wat deur die Zondo-kommissie as staatskapers ontbloot word. Daar word ook versoek dat kaderontplooiing stopgesit en bevoegde staatsamptenare aangestel word.