“ ? Twee uur lange toespraak waarin ’n goeie samevatting van die land se probleme gegee is sonder om ’n enkele oplossing aan te bied,” is hoe dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, die staatsrede opsom. “Die ANC het oor ’n kwarteeu by herhaling gewys hy het doodeenvoudig nie die vermoë om die land se probleme die hoof te bied nie.”

Wat onteiening sonder vergoeding betref, was dit weer op die agenda sonder om enige aanduiding te gee hoe dit uitgevoer gaan word.

Hy sê Ramaphosa het bloot voortgeborduur op die ANC se leë beloftes van die afgelope 25 jaar oor hoe die ekonomie gestimuleer moet word om werk te skep. Dit gebeur egter nie, en die VF Plus wil die President die versekering gee dit sal ook nie gebeur as die Regering voortgaan met onteiening sonder vergoeding nie.

Groenewald sê daar is ’n groot verskil tussen drome en die werklikheid oor die land se probleme. Die President sê byvoorbeeld hy wil 274 000 werkgeleenthede per jaar skep. Die werklikheid is dat sowat 800 000 matrikulante elke jaar die arbeidsmark betree. Dit is byna drie keer meer as die werk wat hy wil skep.

Die werklikheid is ook dat die werkloosheidskoers in Suid-Afrika op bykans 38% staan. Dit dien as bewys dat mooi woorde alleen nie die land se probleme gaan oplos nie, sê Groenewald.

Voorkeur aan die ekonomie

Rampahosa se tweede staatsrede het grootliks gekonsentreer op die herlewing van die land se ekonomie, om onderrig te versterk, vaardigheidsontwikkeling, herstrukturering van dienslewering by staatsinstellings en om korrupsie uit te wis.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê die organisasie ondersteun die vyf dringende take waarop Ramaphosa hom toegespits het. Dít is die versnelling van inklusiewe groei en werkskepping; die verbetering van die onderrigstelsel en vaardigheidsontwikkeling; die verbetering van die omstandighede van arm mense, die versterking van pogings om korrupsie en staatskaping uit te roei; en die versterking van die staat se kapasiteit.

Ramaphosa het verwys na die openbare-private-groei-inisiatief wat deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie gelei word. Suid-Afrika moet die sake-omgewing drasties aanpas om dit makliker te maak om sake te doen, en veral die ontwikkeling van klein sake-ondernemings aanmoedig.

Die landbouwaardeketting vervul ’n belangrike rol in hierdie groei-inisiatief. Sy vyfjaarplan is reeds by die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering ingedien. Dié departement sal saam met provinsiale regerings werk om ontwikkelingsprojekte te identifiseer en te help om beleggingsboeke langs die waardeketting vir oorweging te bou.

Purchase verwelkom ook die feit dat Ramaphosa die landbousektor uitgelig het as een wat spesiale ontwikkelingsondersteuning gaan kry vanweë sy arbeidsintensiwiteit en die groot stukke ongebruikte grond, wat veral in kommunale gebiede geleë is, wat in produksie gebring kan word.

Geen agenda vir hervorming

Mnr. Mmusi Maimane, leier van die DA, sê Ramaphosa het misluk om ’n agenda vir hervorming daar te stel. “Hy volg die ANC se partylyn, want Cyril Ramaphosa is die ANC en die ANC is Cyril Ramaphosa. Die ANC kan homself nie korrigeer nie, hy moet verwyder word as regering vir die nasie om weer te kan werk.”

Maimane wys daarop dat die President werk in die landbousektor wil skep, maar terselfdertyd ook die Grondwet verander om wetlike onsekerheid te skep.

“Die President het die ANC se plan herbevestig om grond sonder vergoeding te onteien en adj.pres. David Mabuza gaan die proses lei. Dit is ’n aanval op die Grondwet en private eiendomsreg en is alleenlik om die ANC-elite te verryk.”

Maimane stel voor dat die Regering eerder grondhervorming moet finansier as om met die Grondwet te peuter. “Die Regering bestee tans meer op VIP-beskerming vir politici as op grondhervorming.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.