Landbouweekblad het vroeër vanjaar berig die instelling van dié heffing is met ’n jaar vertraag  weens kat-en-muisspeletjies van die staat. Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, wou aanvanklik hê die Landbounavorsingsraad (LNR) moet die hoofbegunstigde wees hoewel die LNR in jare geen voordeel vir die bedryf ingehou het nie.

Die bedryf wou met ’n dringende hofbevel die afkondiging van die heffing in die Staatskoerant keer. Daarna is oor ’n beter ooreenkoms onderhandel wat die bedryf aanvaar het. Plaaslike en internasionale saadtelers sal dus nou vir beter kultivar- en saadtegnologie vergoed kan word.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê danksy die ooreenkoms wat oor sojabone bereik is, kon aansoeke ook ingedien word vir die voortsetting van die koring- en garsbedryf se heffing op dieselfde grondslag as die sojabedryf se ooreenkoms.

Groot deurbraak

“Graan SA sien die goedkeuring en toepassing van hierdie teling-en-tegnologieheffing op sojabone as ’n groot deurbraak,” sê De Villiers  ’n verklaring.

Volgens De Villiers sal dit meebring dat plaaslike boere toegang het tot die nuutste kultivars en tegnologie om sodoende te kan meeding met ander lande. “Daar is tegnologie beskikbaar wat die potensiaal het om onmiddellik ’n opbrengsverhoging van meer as 10% vir boere teweeg te bring. Hierdie tegnologie sou nie na Suid-Afrika kon kom as ons nie hierdie tipe finansieringstrukture tot stand gebring het nie.”

De Villiers sê dit is belangrik om kennis te neem dat dié statutêre heffing ’n  verpligte heffing is. Hy versoek dat alle belanghebbendes in die sojaboonbedryf hul samewerking gee.

Vir die eerste jaar sal die heffing R65 per ton wees en vir die tweede jaar R80 per ton. Dié waardes is bereken as 1,2% van die gemiddelde sojaboonprys in die voorafgaande bemarkingsjare. Dit sal betaalbaar wees sodra boere hul sojabone verkoop.

Die sojaboonheffing sal deur die Suid-Afrikaanse agentskap vir kultivar- en tegnologieontwikkeling (Sacta) geadministreer en volgens markaandeel aan saadmaatskappye uitbetaal word. Sacta is ’n maatskappy sonder winsoogmerk wat gestig is om saadheffings vir alle oopbestuifde gewasse te administreer. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.