Mnr. David Brown, uitvoerende hoof van die betrokke mynmaatskappy Coal of Africa Limited, wat intussen sy naam verander het na MC Mining, sê in een van sy eie publikasies dat toegang tot oppervlakregte van die twee plase die projek vertraag.

Hy wys in die betrokke publikasie daarop dat daar ’n grondeise-proses aan die gang is en hoop dat die uitstaande kwessies vandeesmaand afgehandel kan word. Só kan hulle toegang tot finansiering van R1,3 miljard kry vir die bou van die myn.

Boonop toon die maatskappy se eie prospektusse dat die Musekwa-gemeenskap, die groep wat die betrokke grondeis in 1998 aanhangig gemaak het, deel is van die eienaarskap en bestuursplan van die myn.

Die Musekwas se grondeis is in 2006 eers in die Staatskoerant afgekondig, maar volgens dié kennisgewing is hulle nie die enigste gemeenskap wat wag om grondeise in die omgewing te laat besleg nie.

SEWE DAE KENNIS

Mnr. Johan Steenkamp

Die eienaars van die boerdery het in Maart, kort voor Paasnaweek, kennis gekry om die plase binne sewe dae te ontruim, sê mnr. Johan Steenkamp, ’n mede-eienaar. Hulle kon deur middel van regstappe die afsettingsbrief tydelik opgeskort kry.

Me. Maite Nkoana-Mashabane, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê in ’n verklaring die departement het besluit om die eiendom met vergoeding te onteien nadat die departement en Akkerland Boerdery ’n dooie punt bereik het oor wat “billike en regverdige” vergoeding is.

Me. Maite Nkoana-Mashabane

Sy sê die departement het vergoeding aangebied kragtens die waardeerder-generaal se waardasie, en “AfriForum se stelling dat die staat net 10% van die markwaarde vir die eiendomme wil betaal, is ’n mistasting omdat die huidige Grondwet die Regering dwing om Billike en Regverdige (sic) vergoeding te betaal en nie markwaarde nie”.

“Die minister het derhalwe die Finale Kennisgewing van Uitsetting goedgekeur volgens die huidige bepalings oor onteiening met vergoeding,” lui Nkoana-Mashabane se verklaring.

Landbouweekblad het die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gevra of dit standaardprosedure is om grondeienaars sewe dae kennis te gee om hul eiendom te ontruim in gevalle waar die vergoedingsbedrag in ’n onteiening betwis word. Die departement wou hom egter nie daaroor uitlaat nie. Hy wou ook niks verder oor die saak sê nie omdat dit nou sub judice is.

ONTWIKKELING?

Nkoana-Mashabane ontken in dieselfde verklaring dat die motief vir die onteiening van die plase gaan om Coal of Africa (CoAL), wat die steenkool wil myn, te bevoordeel, of om ’n spesiale ontwikkelingsone – waarvoor ’n Chinese maatskappy gekontrakteer is om die ontwikkeling te behartig – te bevorder.

Die burgerregte-organisasie AfriForum, TLU SA, Agri Limpopo en die vakbond Solidariteit sê die Regering se poging om Akkerlandland Boerdery se twee plase, Lukin en Salaita, teen sowat 10% van die markwaarde te onteien, is gemik op die ryk steenkoolreserwes van sowat R70 miljard onder die grond.

Chinese staatsbeheerde maatskappye het ook vroeër vanjaar ’n ooreenkoms met die Regering gesluit. Die doel is om ontwikkeling van $10 miljard, van onder meer ’n steenkoolkragsentrale, -verwerkingsaanleg en verskeie metallurgiese fabrieke, in die spesiale ekonomiese sone Musina-Makhado te bewerkstellig.

BILLIKE PRYS

Steenkamp sê die gebied waar die plase geleë is, is uiters gesog en grond verwissel baie min van eienaar. Hy sê hy weet van grond wat tot R70 000/ha gekos het. Daar was volgens hom sowat vier jaar gelede ook drie ander transaksies naby Akkerland Boerdery waar plase vir gemiddeld sowat R35 miljoen verkoop is.

Daarvolgens sou hul grond van 3 300 ha destyds reeds R115 miljoen werd gewees het. Die staat bied R20 miljoen aan.

“Dit gaan nie net om geld nie, maar ook om beginsels. Ons veg vir eiendomsreg, want die feit dat die Regering net 10% van markwaarde wil betaal, beteken in wese die Regering is reeds besig om 90% van die eiendom sonder vergoeding te onteien,” sê mnr. Leon Borcherds, voorsitter van Agri Limpopo.

Mnr. Leon Borcherds

AfriForum, TLU SA, Agri Limpopo en die vakbond Solidariteit het verlede week op ’n gesamentlike nuuskonferensie in Centurion gesê grondhervorming in die Limpoporivierkom word as dekmantel misbruik om steenkoolreserwes te bekom sodat Chinese nywerheidsuitbreidings daar aangehelp kan word.

Volgens mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verskyn Akkerland Boerdery se twee plase eerste op die Regering se geheime onteieninglys, waarvan die bestaan opnuut deur Nkoana-Mashabane ontken word.

UITGEREKTE STRYD

Borcherds sê daar is groot wedywering in Limpopo tussen die landbou en mynbou om waterhulpbronne te bekom.

“Wat ons bekommer, is dat die indruk gewek word dat alles gaan oor grondhervorming en die vestiging van nuwe boere. Maar hier gaan dit nie oor die landbou nie. Dit gaan oor mynbou. Grond word opgekoop, maar die waterregte word aan myne oorgedra.”

Die vier organisasies gaan Akkerland se regsaksies geldelik ondersteun en het ook ’n beroep op die publiek gedoen om geldelik by te dra. Steenkamp sê hulle berei hulle voor vir ’n lang hofstryd. — NICO VAN BURICK en JEANNE VAN DER MERWE.