Dít blyk uit ’n studie deur die Universiteit Stellenbosch se skool vir publieke leierskap oor faktore wat kleinboere se deelname in die landbou-waardeketting aan bande lê.

Vir dié studie het die navorsers onder meer onderhoude met belangrike instansies in die Suid-Afrikaanse landbouwaardeketting gedoen, soos die groot kommersiële banke, supermarkte, handelaars in die graanwaardeketting en versekeraars. Die doel daarvan was om meer insig oor dié belanghebbendes se interaksie met kleinboere te kry.

Uit die navorsing blyk dit dié instansies vermy kleinboere weens die hoë risiko verbonde daaraan om dienste aan hulle te bied, aangesien die meeste van dié instansies in die verlede teenspoed met sulke boere ervaar het.

Die instansies het egter aangedui dat hulle in die toekoms graag dienste aan kleinboere wil bied, mits nuwe stelsels ontwikkel kan word om dié risiko’s te verminder.

Staat kan help

Die instansies met wie die navorsers geskakel het, het aangedui risiko’s verbonde aan besigheid met kleinboere kan verminder word indien die Regering dit kan regkry om koöperatiewe leierskap, opleiding, logistiek, toegang tot markte, finansiering en die voldoening aan voedselveiligheid te takel. Dié aspekte was vir die meeste instansies belangriker as wetgewing, regulerende vereistes en grondeienaarskap.

Die meeste van die instansies het die Regering aangeraai om hom eerder toe te spits op finansiering en die vestiging van koöperatiewe leierskap. Dit moet met die samewerking van bestaande kommersiële boere gedoen word wat bystand bied vir toegang tot markte en logistiek.

Daarby ingesluit is opleiding deur landbouvoorligting oor hoe om boerderymetodes te volg wat so min moontlike insette van buite benodig. Die doel daarvan is om risiko’s te verminder en om die behoefte aan krediet en ingevoerde produksiemiddele kleiner te maak.

Terselfdertyd moet voedselsekerheid en die ekonomiese lewensvatbaarheid van kleinboere verbeter word.

Uitsluiting

“Die stelsel laat kleinskaalse boere in talle opsigte in die steek, veral met toegang tot onderrig, grond, tegnologie, produksiemiddele, markte en finansiële dienste. Om nie aan hierdie waardekettings te kan deelneem nie, beteken hulle het nie toegang tot kapitaalmarkte nie en dit kom neer op ’n algemene stryd om ekonomiese oorlewing. Intussen sal die stigma dat landelike areas min geleenthede vir jong mense bied, daar bly,” skryf die navorsers, onder leiding van mnr. Wolfgang Johann von Loeper.

Volgens die navorsers is van die grootste probleme waardeur kleinskaalse boere in Suid-Afrika in die gesig gestaar word onder meer weerstand van groot maatskappye, soos banke en kettingwinkels, om hulle by die stelsels in te sluit.

Die navorsers sê die kleinboere in Suid-Afrika en Afrika bied die geleentheid om groener ekonomieë te bedryf wat minder koolstof vrystel. Die kleinboere kan ook werk skep en lewenstoestande verbeter deur stabiele, volhoubare en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling.

Hulle het ook bevind dat kleinboere in Suid-Afrika min of geen toegang tot finansiering en versekering het nie, aangesien daar tans geen winsgewende stelsels bestaan waarbinne sulke dienste aan hulle gebied kan word nie.

Supermarkte en graanhandelaars het onder meer gesê dit is moeilik om met kleinboere handel te dryf weens klein produksievolumes en wisselvallige gehalte.