Tydens ’n gespreksessie op Nampo virtueel was mnr. Dawie Roodt, ekonoom van die Effeciënt-groep, en sy gespreksgenote dit eens dat die strukture een van die sterk pilare vorm vir die behoud van die land ten spyte van ’n onbeholpe en korrupte regering.

Mnr. Jacques Classen, direkteur van Jacques Classen Prokureurs, het gesê sulke strukture stel Suid-Afrikaners in staat om besigheid te doen met mekaar sonder om noodwendig besigheid hoef te doen met die regering wat baie Suid-Afrikaners nie tans vertrou nie.

Is die Grondwet alleen genoeg?

Roodt het gesê die land se grootste vraagstuk handel oor die politiek. Die ekonomie sal reg kan funksioneer mits die politiek op die regte baan beweeg. Die land staar drie groot politieke vraagstukke in die gesig. Die eerste is, wie is werklik aan die stuur van die driepartyalliansie? Die tweede is, is diegene aan die stuur van sake liberaal of kommunisties en die derde is hoe om die staat se uitgawes drasties te verminder, terwyl Cosatu en sy lede die proses baie kan bemoeilik.

Op die vraag van hoe sterk die land se Grondwet is, het prof. Koos Malan van die departement publieke reg aan die Universiteit van Pretoria gesê: “As ’n mens jouself beroep op bloot die bewoording van die Grondwet het jy niks om jou hoegenaamd oor te bekommer nie.” Ten opsigte van die situasie in Suid-Afrika is daar dele van die Grondwet wat volgens Malan eenkant toe geskuif word, nie toegepas word nie of in sommige gevalle vervang word met iets anders.

Malan het die EFF se huidige aksie teen Clicks as ’n voorbeeld gebruik. Die party het hom vandeesweek daarop toegespits om besigheid by die winkelgroep te ontwrig weens ontevredenheid oor ’n advertensie van ’n haarproduk wat aanstoot gegee het. Talle van die groep se winkels is deur kwaaddoeners beskadig en geplunder, en een is selfs met ’n petrolbom bestook.

Malan het gesê die handhawing van wet en orde is deel van die grondwetlike orde, wat beteken dat gevalle soos wat die afgelope week gesien is, nie veronderstel is om plaas te vind nie. Waar dit wel plaasvind, moet streng opgetree en die skuldiges vervolg word, maar dit word nie gesien nie.

Omdat die polisie nie voldoende veiligheid kan verseker nie, het talle veiligheidstrukture deur burgerlike groeperings landwyd tot stand gekom as deel van pogings om misdaad te beveg.

Hy het ook artikel 195 van die Grondwet gebruik as voorbeeld van die letter van die reg wat nie gevolg word nie. Volgens die artikel moet die land bedien word deur ’n professionele en verantwoordelike staatsdiens. “Het ons een? Hierop is die antwoord onomwonde nee!”

skermgreep
Mnr. Dawie Roodt in gesprek met me. Lourensa Eckard, mnr. Jacques Classen en prof. Koos Malan. Foto: Skermgreep

Wen die president veld?

Volgens Lourensa Eckard, aanbieder en joernalis van kykNET Verslag, kom dit die afgelope drie weke voor asof pres. Cyril Ramaphosa veld wen binne die ANC en die regering ten opsigte van optrede teen vergrype aan staatsgeld en die onbeholpe staat. “Die opwelling van teenkanting van die publiek met die ondersoeke na korrupsie met die rampgeld vir die Covid-19-pandemie, terwyl baie mense sukkel om te oorleef, het die president se hand gesterk.”

Dit is egter vooraf gegaan deur dekades van korrupsie. Sy het gesê vir ’n land om sterk te wees moet die sosiale kontrak tussen die staat en die publiek sterk wees, maar dit is nie tans die geval in Suid-Afrika nie. “Ons instellings is al so uitgehol dat hulle nie na behore kan optree nie.”

Sy is van mening dat ’n verskil net by die stembus gemaak kan word. “Dit is baie laat in die dag vir Ramaphosa. Die party (die ANC) as instelling is al (ook) so uitgehol dat dit vir hom amper te laat is om dit om te draai – die hele organisasie is deurspek met onbevoegdheid.”

Eckard het gesê die ANC sal voortbestaan, maar die groot vraag is of die party homself kan hervorm en vernuwe. Alles word wel op die spits gedryf omdat die land se geld opdroog. “Daar is ideologiese konflik met verklarings deur mnr. Ace Magashule, die sekretaris-generaal van die ANC, en Ramaphosa wat verskil van week tot week.”

Classen het gesê groot frustrasie bestaan oor die massiewe klomp geld wat weg is uit die regering se rekeninge sonder dat die dienste gelewer is of die skuldiges aan die pen ry. “Dit is openbare geld wat net weg is met staatsamptenare wat dit toelaat. Hoe vervolg jy hulle as die amptenare in die betrokke afdeling verander voor die hofsaak afgehandel is?”

Classen het as voorbeeld die talle sake rondom die besoedeling van die Vaalrivier naby die Vredefortkoepel gebruik. Riool spoel al jare lank in die rivier en dié wêrelderfenisgebied en niemand word vervolg nie.

Hoe kan Suid-Afrikaners hulself beskerm?

Classen het gesê een manier waarop Suid-Afrikaners hul voortbestaan en hul eiendom teen die staat se vergrype kan beskerm, is om ook beleggings in die buiteland te oorweeg. Hy beveel dit veral aan met die staat wat al hoe meer praat daarvan om pensioengeld te gebruik om die ekonomiese probleme aan te pak. “Ons raad is, begin kyk wat jy op ’n wettige manier in die buiteland kan kry.”’

Classen het gesê beleggings in lande waarmee Suid-Afrika handelsverdrae het, is van die beste opsies, aangesien daardie handelsverdrae eerbiedig moet word selfs al loop sake skeef. “In Zimbabwe moet Britse burgers ingevolge die handelsverdrae wat in die tydperk gegeld het, vergoed word vir die grond wat by hulle afgevat is.”

Een voorbeeld wat Classen genoem het, is dat ’n boer op ’n wettige manier in ’n landboubesigheid buite Suid-Afrika kan belê om sy risiko’s te verskans.

Roodt het voorgestel dat ’n boer ook ’n buitelander kan kry om in sy besigheid hier te belê. “Dis dalk nie fool proof nie, maar dit kan jou minder vatbaar maak vir die vergrype hier.”’

Alles is nie hopeloos

Roodt, Eckard, Classen en Malan was dit eens dat alles in Suid-Afrika nie hopeloos is nie. “Die Reserwebank is nog sterk en werk nog reg,” het Roodt gesê.

“As ek kyk hoe Suid-Afrikaners die aanvanklike grendeltydperk aanvaar het en in hierdie moeilike tyd kon saamwerk, is daar steeds baie hoop vir die land,” het Eckard gesê.