Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê sterk wind, ’n tornado en swaar reën het groot skade by Mthatha in die Oos-Kaap aangerig nadat drie storms wat oor die provinsie ontwikkel het, saamgesmelt het. Twee storms het van Graaff-Reinet en Burgersdorp af beweeg en met ’n derde storm by Mthatha saamgesmelt.

Hael- en windskade het ook by Vanderbijlpark in Gauteng, Petrusburg in die Vrystaat, Prieska langs die Oranjerivier en Fauresmith in die Suid-Vrystaat voorgekom. Koring wat stroopgereed was, het kwaai skade opgedoen.

Storms met wind, swaar reën en hael kan hierdie seisoen meer gereeld voorkom. “Die redelike sterk La Niña wat ontwikkel, verbeter gewoonlik die kans op reën as gevolg van sterker laagdrukstelsels. Baie sterk opwaartse lugstrome neem vog na die hoër en kouer luglae van die atmosfeer, waar dit vinnig kondenseer en reëndruppels en hael vorm,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Die gevolg is dat baie sterk winde kan voorkom en daar is ’n groter kans dat hael kan vorm.”

Van den Berg sê verlede week het sowat 140 mm reën binne twee uur in die distrik Parys geval. Sowat 77 mm is by Kathu in die Noord-Kaap gemeet, 100 mm in Pretoria en sowat 70 mm by Charter Creek in KwaZulu-Natal.  Swaar neerslae het ook in die distrik Swellendam in die Suid-Kaap voorgekom, met byna 100 mm wat op 19 en 20 November gemeet is.  

Geskiedenis

Vorige sterk La Niña-seisoene, waar sterk reënval en oorstromings voorgekom het, het ook baie stormagtige weer beleef, veral tydens die eerste en laaste deel van die somer, sê Van den Berg. Hy verwys veral na die seisoene van 1973-’74, 1975-’76, 1988-’89 en 2010-’11. 

•          In Maart 1974 het stormwinde die Wes-Kaap tot so ver as George en selfs die binneland van die Oos-Kaap getref. Windspoed van meer as 120 km/h is in Kaapstad en George gemeet. 

•          Erge hael- en windstorms het Letsitele in Limpopo op 9 Januarie 1975  getref. Op 17 Januarie 1975 het Gauteng deurgeloop en in Desember 1975 het haelkorrels so groot soos tennisballe in Bloemfontein voorgekom. 

•          Die geskiedenis het ook baie voorbeelde van tornado’s en sterk wind tydens sulke seisoene. In 1988-’89 het plekke soos Cedarville, Grahamstad, Cradock, Welkom, Port Elizabeth, Aliwal-Noord en Dordrecht sulke weerstoestande beleef.

Voorspelling

Die kans op verdere reën oor die noordoostelike dele van die land verbeter van 26 November. Van 28 November af behoort reëntoestande weer wes- en suidwaarts uit te brei tot so ver as die oostelike dele van die Noord-Kaap en ooswaarts tot by KwaZulu-Natal en die noordelike dele van die Oos-Kaap. 

Van den Berg sê van 28 November tot 2 Desember word redelike swaar neerslae met stormagtige toestande veral in die sentrale binneland in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Gauteng en die oostelike dele van Noordwes verwag.  

Min reën kan in die eerste deel van Desember in die westelike dele van die Noord-Kaap voorkom. Die kans op reën in dié droë dele verbeter vanaf die tweede deel van Desember. 

’n Frontale stelsel sal aan die begin van die week ligte reën na die Wes-Kaap bring, terwyl toestande vir reën oor die Suid-Kaap verbeter van 28 November tot 3 Desember. 

Sterk tot baie sterk suidoostewinde word van Donderdag 26 November tot in die eerste week van Desember verwag oor die Wes- en Suid-Kaap met die ontwikkeling van ’n sterk laagdrukstelsel oor die binneland wat deel vorm van die verwagte reënval oor die somerreëngebied in die week hierna, sê Van den Berg. 

Sterk wind uit ’n suidoostelike rigting gaan in die komende maande prominent wees met ’n goeie kans op sterk ontwikkelde somerreënstelsels.