“Ooste- tot suidoostewinde van tot 50 km/h is moontlik, maar dit kan vinnig verander. Van Vrydag af kan die wind noord draai en Saterdag, met die deurbeweeg van ’n hoogdrukstelsel, weer suidwes,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Met die frontale stelsel wat deurbeweeg en ’n bietjie tropiese vog wat oor die sentrale dele van Suid-Afrika afbeweeg, kan dit donderweer saam met die reën oor dele van die Wes-Kaap veroorsaak.”

Volgens Van den Berg kan die Tuinroete en die aangrensende binneland van veral die Oos-Kaap na verwagting reën kry. Droogtegeteisterde dele van die Langkloof en verder noord in die besproeiingsgebiede rondom Port Elizabeth kan ook neerslae verwag.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens luidens ’n verklaring gewaarsku dat die laagdrukstelsel môre en Donderdag sporadies swaar reënval in die vorm van reënbuie en donderbuie oor die Overberg area, die Tuinroete, die Kaapse Wynland asook die Kaapstad metropool kan veroorsaak. Verskeie weermodelle dui aan dat neerslae van tussen 30 en 50mm binne 24 uur moontlik kan wees, terwyl neerslae van tussen 60 en 100mm moontlik oor dele van die Overberg area kan voorkom.  

Van den Berg sê baie min of geen reën is op kort termyn in die vooruitsig vir die suidwestelike en suidelike dele van die Noord-Kaap. Dele van die Klein-Karoo en aangrensende dele soos Ladismith, Bonnievale en Oudtshoorn kan van Woensdag tot Saterdag 10 mm tot 30 mm reën kry.

“Voorspellings is tans baie uiteenlopend en verander amper uurliks, want die laagdruk wat gaan ontwikkel, se posisie verander baie. Dit is selfs moontlik dat dit suid van die Wes-Kaap kan verbybeweeg teen die tempo waarteen dit skuif.”

Eerste sneeu

Die eerste goeie sneeuneerslae het reeds op die Drakensberg geval, terwyl dele van die somerreënstreek Vrydag en Saterdag (30 April en 1 Mei) meer reën gekry het as wat aanvanklik verwag is.

Distrikte wat goeie reën gekry het, sluit in Rysmierbult naby Potchefstroom wat 46 mm gemeet het, Kroonstad met 31 mm, Ventersdorp met 30 mm, Koppies met 25 mm, Fouriesburg met 30 mm en Coligny in Noordwes met 23 mm. Goeie reën het ook voorgekom by Queenstown (50 mm) en Elliot (40 mm) in die Oos-Kaap. Op Richardsbaai in KwaZulu-Natal is 50 mm gemeet, en 30 mm is in Kimberley in die Noord-Kaap aangeteken. In die Wes-Kaap het die meeste reën by Kirstenbosch (26 mm) en Swellendam (18 mm) geval.

Minimum temperature onder vriespunt is in die distrik Molteno in die Oos-Kaap aangeteken, terwyl minimum temperature net bo vriespunt was in Bloemfontein en op Fauresmith, Warden, Fouriesburg en Bothaville in die Vrystaat, en op Standerton op die Hoëveld van Mpumalanga. “As gevolg van die nat toestande en temperature wat oor die algemeen net bo vriespunt was, het baie min rypskade voorgekom. Tans is dit byna net laat aanplantings van sonneblom wat nog rypskade kan kry,” sê Van der Berg.

‘Intense winter’

Van den Berg sê in teenstelling met wat baie mense glo, is ’n nat winter nie noodwendig ’n warm winter nie, en omgekeerd. Lugvog kan wel ’n buffereffek op temperatuurskommelings uitoefen, maar baie ander faktore bepaal die intensiteit daarvan.

“Een van die koudste winters tot dusver is verlede jaar aangeteken. Een van die oorsake van dié koue winter was die oppervlaktemperature van die suidwestelike Indiese Oseaan en aangrensende Atlantiese Oseaan wat tot meer as 2 °C kouer as normaalweg was.” Koue lug agter die koue fronte kon dus nie verwarm word nie, en dit het vanuit die suide oor die land inbeweeg en baie koue toestande veroorsaak. Frontale stelsels het verlede jaar ook baie ver noord beweeg.

Volgens Van den Berg is die huidige opstelling van oppervlaktemperature soortgelyk aan dié van verlede jaar. ’n Baie skerp temperatuurdaling van 2 °C het verlede maand oor ’n baie groot gebied van dié oseane plaasgevind, wat selfs teen die ooskus tot verby Mosambiek gestrek het. “Dit is onseker of dit nog intenser gaan word en of daar ’n vinnige verandering kan voorkom. Dit is moontlik met water langs die Weskus van Suid-Afrika en Namibië wat 1 °C tot 3 °C warmer as normaal is, en ’n dreigende rooigety kan veroorsaak.”

Nadat die koue fronte einde April oor Suid-Afrika beweeg het, dui weermodelle aan dat baie koue toestande weer (soos verlede jaar) van die laaste deel van Mei af kan voorkom. “Baie koue toestande word ook verwag in die noordelike dele van Mpumalanga en Limpopo, wat veral skade aan groente soos ertjies en laat aanplantings van aartappels kan veroorsaak,” sê Van den Berg.