Die Steytlerville-landbouvereniging se inisiatief, genaamd die Steytlerville Landbouvereniging Noodfonds, is in 2018 deur mnr. Peter Knoesen, voorsitter van die boerevereniging, van stapel gestuur sodat die vereniging nie meer bakhand hoef te staan wanneer toekomstige droogtes toeslaan nie. Die distrik het vier jaar opeenvolgens ondergemiddelde reënval gemeet.

“Ons moet leer om op ons eie voete te staan. Die regering help ons nie meer nie en hoewel die mense vanuit die noorde ons baie help met voer, is dit nie volhoubaar nie,” sê Knoesen. “Uit die aard van die saak bly ons ’n waterarm gebied. Ons het nie besproeiing om van te praat om ons eie voer mee te produseer nie.”

Die boerevereniging samel vanjaar geld in deur lootjieverkope. Hy het ’n groot aantal wild uit die streek as pryse. Lootjies word teen R100 elk verkoop. Die eerste prys is ’n jagpakket by Hartebees Safaris wat besit word deur mnr. Paul Bergh, ’n boer in die area. Dit sluit in twee nagte se verblyf vir twee persone, ’n koedoe en springbok. Verdere pryse wat gewen kan word, is koedoes en springbokke.

Volgens Knoesen kan die vereniging danksy hierdie geldinsameling mense van buite die distrik betrek. Enigeen van reg oor die land kan lootjies koop.

Die boerevereniging het verlede jaar met die geldinsameling begin en kon toe R108 000 ingesamel. Volgens Knoesen kon hulle ongeveer 130 ton mielies aankoop wat teen R80 per sak aan boere verkoop is. Die geld is toe weer gebruik om nog mielies aan te koop. Kaartjies het verlede jaar R200 gekos, maar daar was toe ongeveer 80 pryse.

Volgens Knoesen is die plan om voortaan elke jaar ’n geldinsameling te hou om sodoende genoeg geld in te samel om voer aan te koop wanneer dit nodig is. Die geld word belê in die boerevereniging se bankrekening. Boere moet lede wees van die boerevereniging wees om voer deur die fonds te kan bekom. Daarby kom die pryse vir die geldinsameling ook alles van lede van die boerevereniging.

Knoesen sê tydens die goeie jare in die distrik wil hulle geld insamel sodat “ons onsself dadelik kan help” wanneer dit weer droog raak.

Daar sal elke jaar ook ’n nuwe komitee verkies word wat die geldinsameling reël om te verseker dat die reëlings daarvan nie elke jaar op twee of drie persone in die vereniging sal val nie. Mnr. Ernie Deyzel, wat verlede jaar ook vir Knoesen gehelp het, is vanjaar die organiseerder van die geldinsameling.

Vir nog inligting besoek die boerevereniging se Facebookblad by Steytlerville Landbouvereniging Noodfonds. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.