’n Verslag word binnekort in dié verband uitgereik ná ’n ondersoek om die oorsaak van skade aan bome in private tuine en parke te bepaal. Mnr. Braam du Preez, ’n bosboukonsultant, het aan Landbouweekblad gesê daar is vasgestel dat die kewer en die swam beslis verantwoordelik is vir die skade.
Kommer is reeds uitgespreek dat dit kan oorspoel na die Suid-Kaap se vrugteboorde en die res van die landbou. Du Preez het in Januarie monsters van die beskadigde bome geneem en dit met kundiges by die instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (FABI) aan die Universiteit van Pretoria bespreek.
Prof. Wilhelm de Beer van FABI het die gebied besoek om monsters te neem. De Beer het dr. Trudy Paap, ’n navorser verbonde aan FABI, wat haar toespits op die stompkopkewer, afgevaardig om ’n uitgebreide ondersoek te doen. Sy het George en Knysna in Junie besoek.
VERSPREI
Paap het tydens haar besoek bevind talle inheemse bome in George, Knysna en Tsitsikamma word geraak. “Dit is besig om ooswaarts van George af te versprei selfs tot by Tsitsikamma. Dit versprei ook weswaarts, maar daar kan nog nie vasgestel word hoe ver nie.”
Tydens Paap se besoek is kommer uitgespreek oor die potensiële impak op die landbou, veral by avokado’s en pekanneute. Du Preez sê dit raak ook dorpsgebiede waar boomsoorte, soos die eikeboom, voorkom. Dit is ook al opgemerk by swartwattel, ’n gewilde brandhout. Tans word klem gelê op bewusmaking en kostedoeltreffende bestrydingsmaatreëls.
Die navorsers doen ’n beroep op die publiek om simptome daarvan aan te meld. Besmette bome moet verwyder en verbrand word. Daarvoor is ’n aangewese stortingsterrein nodig sodat dit nie verder kan versprei nie. Du Preez glo nasionale ingryping is nodig.
*Besoek www.fabinet.up.ac.za vir nog inligting.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier