Dié moontlikheid spruit voort uit hoë bakterietellings wat tydens toetse op monsters van Meat World-vleisprodukte gevind is.  

’n Ondersoek deur die aktualiteitsprogram Carte Blanche het onder meer aan die lig gebring dat ’n aantal van Meat World se winkels na bewering vrot vleis verkoop het en produkte se etikette verander het om hul verkoopsdatum te manipuleer. Meat World het intussen aangekondig dat hy van plan is om van die winkels se konsessies op te sê indien die aantygings waar is.

Mnr. Rudi van der Westhuizen, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Vleismaatskappy (Samic), het gesê Regulasie 962 van die Die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels (wet 54 van 1972) reguleer die beheer van persele waar voedsel verwerk word.

Die regulasies word deur munisipale owerhede toegepas met omgewingsgesondheidsinspekteurs wat die verskillende persele ondersoek om te verseker dat daar aan die regulasies voldoen word, waarna sertifikate van aanvaarbaarheid uitgereik word.

Ondersoek
Intussen het Meat World in ’n persverklaring gesê hy het dr. David Klatzow, ’n bekende forensiese ondersoeker, aangestel om die laboratoriumresultate te analiseer. Klatzow meen die totale bakteriologiese resultate dui nie op ’n stelselineenstorting nie.

Me. Angelino Pereira, hoof- uitvoerende beampte van Meat World, het ook ’n onafhanklike ondersoeker aangestel om ’n omvattende inspeksie van al die maatskappy se winkels uit te voer. 

“Ek het die onmiddellike besluit geneem nadat ons bewus geword het van die aantygings. Ons sal alles in ons vermoë doen om enige ongerymdhede reg te stel. Ons kliënte is ons familie en ons neem hul klagtes baie ernstig op,” het sy gesê.