Mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder vir me. Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê die 566 stuks vee wat op die plaas Electie van mnr. Ikus le Roux van die hand gesit is, moet ingevolge kwarantynmaatreëls 28 dae op die plaas vertoef voordat dit na die nuwe eienaars vervoer kan word.

Volgens Ngcobo word die omstandighede en vervoer van diere na die veiling ondersoek. Die aard en die omvang van die moontlike klagte is nog nie bepaal nie, maar dit hou verband met die verbod op die samekoms van diere met gesplete hoewe om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom.

Mnr. Jaco van Aswegen van Liba-afslaers van Hartswater het die veiling namens Le Roux aangebied. Altesaam 48 stoorbeeste is teen gemiddeld R6 800 verhandel, terwyl die gemiddelde kleinveeprys R985 vir 156 bokke en R1 145 vir 362 skape beloop het.

Volgens Liba se kennisgewings van die veiling is net een verkoper se diere aangebied en streng maatreëls sou geld, soos die ondersoek van die vee deur ’n staatsveearts en die inspeksie van die kopers se voertuie om die verspreiding van siektes te voorkom.

Le Roux kon nie vir kommentaar bereik word nie.