Agri SA en TLU SA maan in ’n gesamentlike verklaring hul lede tot groter waaksaamheid. Die polisie word ook gevra om in die afsienbare tyd sy sigbaarheid in landelike gebiede te handhaaf. 

“As landbou-organisasies besef ons dat daar nou baie druk op die polisie is. Daarom het albei organisasies onderneem om saam met die polisie te werk vir groter veiligheid in landelike gebiede,” lui die verklaring.

’n Veilige omgewing moet vir die landboubedryf geskep word om voedselproduksie suksesvol voort te sit.  

Volgens Agri SA en TLU SA is die uitwysing van die landbou as een van die noodsaaklike bedrywe ’n bevestiging van die strategiese waarde van dié sektor om in die ramptoestand voort te gaan om die bevolking te voed en voedselsekerheid te handhaaf.  “Die veiligheid van die sektor is dus ook van strategiese belang in die rol wat hy as ’n noodsaaklike bedryf moet speel,” lui die verklaring. 

Die organisasies het hulle op hul lede beroep om verskerpte veiligheidsmaatreëls te handhaaf. Dit behels ook skakeling met plaaslike beveiligingstrukture, die instandhouding van die plaasgemeenskap se beskermingsmaatreëls en die daarstel van ’n plaaslike gebeurlikheidsplan met die samewerking van die polisie. 

Volgens mnr. Tommie Esterhuyse (Agri SA) en genl.maj. Chris van Zyl (TLU SA) moet boere nou meer as tevore bedag wees op wanvoorstellings van misdadigers om só toegang tot plase te kry. “Die huidige ramptoestand gee misdadigers die geleentheid om die boerderygemeenskap aan te val. Die toepassing van die plaastoegangprotokol kan dit as afskrikmiddel dien en ’n bydrae tot plaasbeveiliging lewer.”