Dit was een van die eerste veilings nadat me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Maandag aangekondig het dat die tydelike verbod op veeveilings opgehef is.

Voertuie van mense wat die veiling bywoon, moes almal deur ’n ontsmettingsbad ry en die voertuie wat beeste op- en afgelaai het, is almal deur ’n ontsmettingsbad en -stort om seker te maak geen siekte word by die hek in- of uitgebring nie.

Voor die veiling begin het, het mnr. Paul van Vuuren van André Kock en Seuns gevra dat verkopers vraelyste oor elke dier voltooi. Daarop word onder meer aangedui waarvoor die diere ingeënt is en wanneer. “As jy nie jou bees vir iets gespuit het nie, vul dit so in. Dit beteken nie ons gaan nie jou diere verkoop nie, maar dan weet ons en die koper waar ons met daardie dier staan,” het Van Vuuren verduidelik.

Die vorm is saam met die dier aan die nuwe koper oorhandig en is die begin van ’n rekord wat vir elke dier opgebou word. Elke bees wat verkoop is, is met ’n oorplaatjie gemerk waardeur die veilingbedryf in Limpopo hoop om beter rekordhouding en naspeurbaarheid te bewerkstellig.

veiling, veilingskraal
Foto: Jasper Raats
veilingsverbod, biosekerheid
'n Voertuig ry deur 'n ontsmettingsbad. Foto: Jasper Raats

"Ons moet iewers begin"

Van Vuuren het gesê die private sektor gaan verantwoordelikheid moet neem vir die bestuur van bek-en-klouseer in Suid-Afrika en die toepassing van ’n naspeurbaarheidstelsel. “Die eerste stap is om die diere wat ons verkoop, te merk en in ’n rekordhoudingstelsel op te neem. Ons moet iewers begin.”

Daar is ook vir die eerste keer ’n klein, vrywillige heffing op die verkope gevra om die werk van die nuutgestigte bek-en-klouseerforum te finansier. “Ons wil die siekte in die beheersone begin bestuur en seker maak dit versprei nie weer na die bek-en-klouseervrye areas nie. As ons nie daardie gebied regruk nie, gaan daar oor ses maande weer bek-en-klouseer uitbreek. Ons was gelukkig dat dit hierdie keer tot Limpopo beperk is, dit kan baie maklik uitbrei na die Vrystaat en na die hele land toe. Dit is dus in ons eie belang om die regering te help om daardie gebied te polisieer en administreer.”

Die heffing beloop volgens Van Vuuren in die omgewing van R1,50 per kalf en nie een van die verkopers op Woensdag se veiling het geweier om dit te betaal nie. “Dit is ’n klein prys om te betaal. As ons daardie gebied reg kan bestuur, gaan ons speenkalwers van R80/kg tot R100/kg werd wees, maar as ons dit nie bestuur nie en ons verloor die stryd teen bek-en-klouseer gaan hulle van R20/kg tot R30/kg werd wees.”

Van Vuuren het gesê dat strenger opgetree gaan word oor brandmerke. Elke dier wat vervoer word, moet gebrandmerk wees – tensy dit ’n kalf is wat jonger as ses maande oud is en nog nie gespeen is nie. “As ’n kalf aan sy ma suip, hoef dit nie gebrandmerk te wees nie, want daardie kalf word dan saam met sy of haar ma verkoop. Enige kalf wat gespeen is, selfs jonger as ses maande, moet gebrandmerk wees.”

Van Vuuren het gesê boere moet onthou dat ’n afskrif van die eienaar se brandmerksertifikaat en sy of haar ID-dokument beskikbaar moet wees.