Ná twee moeilike jare lyk die oesgehalte vanjaar heelwat beter. Die milde reën wat in die tweede helfte van Desember en begin Januarie geval het, het egter op plekke versuipskade veroorsaak.

“Ons is volstoom aan die stroop met mielies. Die lande is baie nat, en vertraag ietwat die stroopproses, maar die eerste mielies se voginhoud is onder 15% en die gehalte is baie goed,” sê mnr. Lourens van der Linde van die plaas Klein Constantia by Wesselsbron. Hy sê dit lyk darem nie asof herfsreën die gehalte beïnvloed het nie, omdat hulle vroeër kon plant as die vorige jaar. “Die opbrengste lyk goed, behalwe vir dele wat versuip het van die baie reën.”

‘Geluksbuie’ het gehelp

Mnr. Danie Minnaar van die plaas Springboklaagte in die distrik Kroonstad sê die boere wat ’n “geluksbui” in November gekry het en toe kon plant, stroop reeds mielies. “In ons gebied is reeds 10% van die mielies gestroop. Die ouens stroop opbrengste bokant die langtermyngemiddelde op daardie vroeë mielies.” 

Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê hoewel heelwat besproeiingshektare reeds gestroop is en dele van Mpumalanga fluks vorder, het die meeste mielieboere nog nie begin stroop nie. “Die algemene reël is dat groot oeste stadiger afdroog en dit is beslis vanjaar die geval. Die verwagting is dat die stroopproses eers teen tweede helfte van Junie in volle gang sal wees.”

Die aanvanklike aanduidings is dat opbrengste oor die noordoostelike gedeeltes van die Vrystaat, asook groot gedeeltes van Mpumalanga, ondergemiddeld is vanweë die droë toestande in Februarie en Maart, sê Rossouw. “Die opbrengspotensiaal van mielies oor die sentrale en westelike gedeeltes van die mieliegebied lyk egter fantasties.”

Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee se mielie-oesskatting van 27 Mei word ’n oes van 15,6 miljoen ton verwag met ’n opbrengs van 5,97 t/ha. Dit is dit die tweede grootste oes en die tweede beste opbrengs nog, met slegs 2017 se oes van 16,8 miljoen ton teen ’n opbrengs van 6,40 t/ha wat beter was. 

Rossouw sê dit is opmerklik dat die maandelikse opbrengsneiging tussen 2017 en 2020 se skattings sterk ooreenkomste toon en dui daarop dat die uiteindelike oesgrootte nader aan 16 miljoen ton kan wees (sien grafiek hiernaas).

“Dit gaan sommer duisend keer beter met ons as die afgelope twee jaar. Die oeste is baie mooi en so ook die weiding. Dis ’n geseënde jaar,” sê mnr. Hentie Helm, wat tussen Bultfontein en Hoopstad boer. Sy mielies is nog te nat om te stroop, maar hy kon ’n gedeelte van sy sonneblom stroop waarvan die gemiddelde opbrengs 3,3 t/ha was. 

Sterk strooptempo vir sonneblom

Rossouw sê sonneblom-opbrengste wissel vanaf gemiddeld tot uitstekend, met enkele boere wat opbrengste tot 3 t/ha realiseer. “Teen 22 Mei was nog net 36% van die oesskatting se totale tonnemaat gelewer, maar die strooptempo is tans sterk met die afgelope drie weke wat baie goeie lewerings gehad het. Daar word verwag dat die oesproses van sonneblom sal voortduur tot laat in Junie.”

Die stroopproses van sojabone staan vinnig einde se kant toe. Volgens die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) se weeklikse leweringsyfers is 983 227 ton sojabone tot 22 Mei gelewer. Dit is ongeveer 76% van die totale oesskatting, sê Rossouw. Dit was opmerklik dat die Nasionale Oesskattingskomitee ’n skerp styging in opbrengste vanaf die Vrystaat en Noordwes verwag. 

Rossouw sê die afgelope drie maande is sonneblom- en sojapryse gedryf deur die wisselkoers en hy verwag dat dit steeds korttermyn-skommelings sal veroorsaak. Hy verwag dat mielie-uitvoer na Afrika relatief sterk sal bly, maar dat daar ook ten minste 1 miljoen ton se diepsee-uitvoer sal plaasvind danksy die goeie oes.

“Dit beteken dat pryse op kort termyn rondom uitvoerpariteitsvlakke sal bly verhandel.”