Só het mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne van Agri SA, gesê toe die organisasie op ’n mediakonferensie bekend gemaak het dat hy appèl teen die uitspraak finansieel gaan ondersteun.

Die uitspraak deur ’n volbank regters van die hooggeregshof in Pretoria geld vir drie afsonderlike sake wat in Oktober 2019 saam aangehoor is. Agri SA gaan twee van die sake se applikante finansieel in hul appèl ondersteun.

Dié twee boerderygroepe, asook die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (SAAFWUA), wat die applikant in die derde saak was, het hul aansoek om verlof tot appèl op 10 Julie ingedien.

Rabie sê die hof is verlede jaar om ’n verklarende bevel oor art. 25 (2) van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) gevra, wat oor die oordrag van watergebruiksregte gaan.

Die regters het egter ’n vreemde uitspraak gelewer omdat hulle geen verklarende bevel gelewer het nie. Hulle het bevind sowel die applikante as die departement van water en sanitasie se interpretasies is toelaatbaar. Eersgenoemde het aangevoer die artikel laat die oordrag van regte na ’n derde party toe, terwyl die departement aangevoer het dit is nié toelaatbaar nie.

Mnr. Nic Knoetze, uitvoerende hoof van SAAFWUA, sê in ’n verklaring die regters se bevinding dat die houer van ’n watergebruiksreg nie die reg het om iemand te kies wat ’n reg kan ontvang wat opgesê of oorgedra word nie, verhinder nou die oordrag van watergebruiksregte.

Knoetze wys daarop dat die departement voorheen die permanente oordrag van watergebruiksregte toegelaat het, onderworpe daaraan dat die departement die lisensie goedkeur op grond van die nodige motiverings en voorwaardes.

Dit het volgens hom tot breë-basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) bygedra. “Enige BBSEB-ondernemings sal nou beswaarlik realiseer as waterhandel nie toegelaat word nie,” sê Knoetze.

Demper

Volgens Rabie is dit nodig om teen die uitspraak te appelleer sodat die korrektheid daarvan getoets kan word. Dit is ook belangrik om sekerheid te kry van gebruiksregte en die vermoë van die landbou, veral die besproeiingsektor, om doeltreffend te wees as hy nie watergebruiksregte kan oordra nie.

Rabie sê in ’n inligtingsessie waarin Agri SA die uitspraak met verskeie belanghebbendes bespreek het, insluitend boere en die finansiële sektor, was dit duidelik dat die uitspraak ’n demper kan plaas op landbou-ontwikkeling en -uitbreiding, asook seisoenale aanpassings.

Die uitspraak raak nie die huidige waarde van plaaseiendom nie, omdat bestaande watergebruiksregte nie geraak word nie, maar dit raak toekomstige oordrag.

“Die landbou is ’n vloeibare bedryf. ’n Mens moet vinnig aanpassings op jou plaas te kan maak, veral in die besproeiingsektor. As ’n boer se oes byvoorbeeld misluk het of deur ’n haelstorm getref is en hy nie sy watergebruiksreg op dié grond kan benut nie, moet hy dit na ’n ander plaas of ’n buurman kan oordra.

“Vir voedselsekerheid is dit belangrik om toegang te hê tot hulpbronne en dit so doeltreffend as moontlik te kan gebruik. Dit is juis wat die betrokke bepaling in die wet nog altyd in gedagte gehad het, naamlik die doeltreffende gebruik van water, wat nou deur die uitspraak benadeel sal word.”

Volgens mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, versterk watergebruiksregte die landbou se balansstaat. Dit stel boere in staat om produksielenings by banke te kry. Hiersonder sal voedselsekerheid op lang termyn in gedrang kom.

Groei in die landbou is belangrik omdat dit ’n vermenigvuldigende effek in die groter ekonomie het.

Onsekerhede oor eiendomsreg en watergebruiksregte, tesame met die likiditeitskrisis van die Land Bank, belemmer egter belegging in die landbou, sê Van Zyl.

Om by te dra tot Agri SA se vrywillige waterfonds, kontak mnr. Etienne van der Vyver by tel. 012 643 3400 of e-pos etienne@agrisa.co.za.