Dr. Gerhard Coetzee, besturende direkteur van Haevic, 'n hommeltuig-operateur van Noordwes, het dié navorsing aangevoor. Sy vraag aan Landbou.com om 'n paar boere op te spoor om met die navorsing te help,  is gepubliseer en dit het ongekende belangstelling ontlok. Coetzee soek een of twee Noord-Kaapse boere vir 'n projek om hommeltuie te gebruik om prosopis te bestry.

“Haevic gebruik lang afstand-vliegtuie wat drie tot agt ure aaneen in vlug kan bly. Die vliegtuig volg outomaties 'n vooraf opgestelde roete en gooi die gif (vir prosopis) slegs op selektiewe areas (in hierdie geval die prosopis-bos). Ons monitor die werking van die gif met behulp van infra-rooi kameras en evalueer waar daar weer gif toegedien moet word.”

Dit beteken vinniger toediening met minder gif, en geen blootstelling aan nuttige weiding of veld nie, sê hy.

Bou die hommeltuie

Coetzee sê die vliegtuie word tans vir dié doel gebou en voorberei. “Ons wil een van die vliegtuie se vermoëns teen middel Junie toets. Vir die doel benodig ons een of twee boere met plase in die Noord-Kaap om die toetse te doen. Ons gaan spesifiek fokus op die behandeling van die prosopis-bos omdat dit so ‘n groot probleem veral in dié provinsie is.

“Ons is oorval deur aanbiedinge van boere om hulle plase te gebruik. Ons is uiters dankbaar vir soveel bereidwilligheid. Ons sal binnekort ‘n keuse maak watter boer(e) ons sal nader vir hierdie doel.”

Elders in Afrika

Volgens Coetzee spesialiseer Haevic in lang afstand, vaste vlerk, onbemande vliegtuie wat uitdagende take in uitdagende omstandighede kan verrig. Hulle werk ook elders in Afrika, met uitgebreide ervaring om hommeltuie te gebruik in die landbou, mynbou en hernubare energie-industrie. Lees meer op www.haevic.co.za.

Weens die groot belangstelling, het Haevic  ‘n spesiale Facebook-blad begin waar lesers voortdurend die nuutste verwikkelings kan volg, saam kan gesels en vrae kan vra. https://www.facebook.com/gifhommeltuig/.

* Skryf in vir die gereelde e-pos-nuusbrief, met ‘n e-pos aan gerhard@haevic.co.za met die woord Nuusbrief in die onderwerpsveld.