Dit val saam met ’n styging in die internasionale Brent-ruolieprys tot bo $85 per vat. Vrese bestaan dat dié prys binne maande $100 per vat gaan haal, wat rampspoedig kan wees vir ’n ontluikende ekonomie soos Suid-Afrika waar ’n swak geldeenheid beteken olie-invoer word al hoe duurder. Die druk gaan veral deur marginale ondernemings gevoel word.

Dié ondernemings kry reeds swaar weens ander faktore, soos salarisverhogings van hoër as die inflasiekoers en ’n skerp styging in krag- en watertariewe, waarsku mnr. Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.

“Die jongste verhoging beteken bykomende besteding van R6,3 miljard per maand, wat veral die logistieke sektor – maar ook die landbou – se koste opjaag.” Die koste om produkte by die mark te kry, dit koel te hou, selfs die koste van elektrisiteit, word deur duurder brandstof verhoog.

“Eskom wek in tye van hoë kragverbruik elektrisiteit op vanaf turbines wat deur diesel aangedryf word,” sê hy.

impak op koste

Vergeleke met ’n jaar gelede het die prys van diesel met 29% gestyg. Dié styging het ’n regstreekse en onregstreekse uitwerking op boere se produksiekoste, sê mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB.

“Kunsmis, plaag- en onkruiddoders se prys word ook van die olieprys afgelei, daarom kry boere twee vuishoue wanneer die brandstofprys verhoog.” Die styging van R1,24 per liter vir diesel is veral ’n gevoelige slag vir somergraanprodusente wat nou plant en meer diesel as gewoonlik gebruik.

Die logistieke bedrywe word ook swaar getref. “Tot 75% van die plaaslike graanoeste word per pad vervoer en die produksiemiddele om daardie oeste te plant, word ook per pad vervoer,” sê mnr. Wandile Sihlobo, hoof van landbou- sakenavorsing by die landbou-sakekamer Agbiz.

“Bykomende kunsmis en saad word in planttyd afgelewer en die jongste prysverhoging word by die afleweringsprys gevoeg.”

BREËR INVLOED

Volgens mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, styg produksiekoste vir die landbou met R1 miljard per jaar vir elke 1c-styging in die dieselprys. Die impak van die jongste styging in die dieselprys beteken dus dat produksiekoste R1,24 miljard meer is.

“Ongelukkig is boere prysnemers en kan hulle die verhoging in hul produksiekoste nie oordra aan die volgende ou in die waardeketting nie. Al manier hoe hulle die koste kan verwerk, is deur minder te bewerk, maar dit kan weer uitkring na produksie en opbrengs wat ook nie goed is nie.”

Binnelands is die kans al hoe groter dat inflasie (en daarmee saam die rentekoers) kan styg onder druk van die swak rand en hoër brandstofpryse. Sommige ontleders verwag dat die rentekoers reeds in November gaan styg. Tog lyk dit asof die Reserwebank meen inflasie is steeds binne beheer.

Mnr. Daniel Mmimele, adjunkpresident van die Reserwebank, het in ’n toespraak op ’n byeenkoms vir sentrale bankiers in New York gesê die Reserwebank verwag in dié stadium dat inflasie tot einde 2020 binne sy mikpunt van 3% tot 6% gaan bly. Die bank verwag dat dit by 5,9% gaan draai in die tweede kwartaal van 2019.

DALING?

Volgens Schüssler kan daar dalk volgende jaar effense brandstofprysverligting wees. “Einde Desember het die Noordelike Halfrond klaar energie gekoop vir die winter en daal die Brent-ruoliepryse gewoonlik.” Die wisselkoers speel ook ’n groot rol.

’n Swakker rand was verantwoordelik vir 49c per liter van die petrolprysverhoging in Oktober en 51c per liter vir diesel. Die geldeenheid verhandel erg wisselvallig, maar Maree sê daar is ’n sprankie hoop dat die rand sal bly versterk ná dit einde September naby R14 per dollar gaan draai het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.