Dít sal dalk die vraag wees wat Suid-Afrika hom eersdaags moet afvra as die regering aanhou om reddingspakkette van miljarde rand aan die wankelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te gee, terwyl daar geen geld vir gesubsidieerde oesversekering beskikbaar is nie.

Só het mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, op ’n nuuskonferensie by Graan SA se jaarlikse kongres op Nampopark buite Bothaville gesê. “As die landbou moet ons op ons deel aandring, selfs al is die staatskas leeg. Ons moet die nasie voed en daarom moet daar ’n belegging in ons wees.”

Hy het gesê die regering se droogtehulpprogramme wat onder meer boorgate of noodvoer vir veeboere insluit, help graanboere nie.

“Graanboere het geld nodig om rekenings te betaal. Ons soek oesversekering of ’n subsidie vir oesversekering om die uitwerking van klimaatsverandering te versag en te help dat boere minstens die volgende seisoen kan plant.”

In ’n verklaring het Graan SA gesê hy sal sy pogings verskerp om met alle belanghebbendes saam te werk om die noodsaaklikheid van gesubsidieerde oesversekering vir graanboere te beklemtoon. 

“Ons kommersiële graanboere ding met die res van die wêreld mee, terwyl hulle deurlopend groot risiko’s trotseer. Hael, droogte, vloede en siekte-uitbrekings is deurlopende en werklike bedreigings. Die bedreiging is selfs groter vir kleiner boere wat nie kan bekostig om versekering uit te neem nie,” lui die verklaring.

Op sy beurt het mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA se direksie, gesê dat daar reeds ver gevorder is met samesprekings tussen die Suid-Afrikaanse vereniging van versekeraars (SAIA) en die tesourie oor versekeringsopsies. 

“Ons het ongelukkig die huidige begroting misgeloop, maar ek glo dit gaan nie te lank duur voor ons dit (versekeringsubsidies vir boere) toegepas sien nie. Dit gaan nie hierdie seisoen wees nie, maar dit kan volgende seisoen wees. Intussen moet boere steeds alles doen wat hulle kan om hul eie risiko’s te beperk.

“Daar is verskeie maniere hoe ’n saaiboer dit kan doen. Hy kan wisselbou toepas, ’n ruslandstelsel inbring of na vee toe oorbeweeg, soos wat waarskynlik al hoe meer in die westelike saaigebiede sal gebeur.”

Dis belangrik dat elke boer gaan kyk wat op sy eie plaas die beste sal werk, het Minnaar gesê.

“Ons sal nog minder risiko moet aanvaar, want daar is nie in dié stadium enige vangnette vir ons nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.