Dit was die mening van mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, op die Bayer Climate Fieldview-bekendstelling in Pretoria. Vorster het onder meer as gespreksleier in die paneelbespreking opgetree.

Hy het gesê die land sukkel op politieke terrein en maak in baie gevalle steeds te veel staat op ekonomiese meevallers om vorentoe te beweeg. Daar is egter ook ligpunte soos die Reserwebank en sy onafhanklike monetêre beleidskomitee wat steeds rasionele ekonomiese besluite neem, asook die land se tesourie wat steeds ’n kundige en rasionele instelling bly. 

“Intussen beskerm die land se howe private eiendomsreg met ’n vrye regsbank wat steun op die Grondwet, terwyl die land se vrye media nie aan bande gelê word nie,” het hy gesê. 

Suid-Afrikaners wat skuld het, het baat gevind by lae rentekoerse, maar Vorster het ook gewaarsku dat die onderste draaipunt in rentekoerse nou bereik is. “Hoewel klein, word dit duidelik dat die volgende rentekoersbeweging opwaarts gaan wees. Nog ’n element is dat die groeikoers vir 2021 beter gaan wees as wat ons aanvanklik verwag het, maar die groot vraag gaan wees of hierdie groei gaan deurloop na 2022, 2023 en verder.” 

Vorster het gesê die rede vir die groeikoers is sterk kommoditeitspryse van veral minerale en metale. Dit is natuurlik baie goed vir die mynboubedryf en dra baie by tot die staatskas. Intussen lyk die belangstinginkomste ook beter as wat vooruitsigte dit aanvanklik wou hê.

Die landbousektor se uitstekende prestasie kan ook nie ongesiens verbygaan nie. Dit het weer die bedryf se waarde vir die land onderstreep, terwyl gunstige tekens in die vervaardigingsektor ontwikkel. 

“Dit alles is goeie nuus vir Suid-Afrika, wat ’n stewige inspuiting van buitelandse kapitaal benodig. Onthou, wanneer ons uit ’n wêreldwye resessie beweeg, is daar kapitaalvloei na ontwikkelende ekonomieë – presies wat die land nou benodig,” het Vorster gesê.

Nie alles maanskyn en rose

Dit gaan egter nie net goed nie en daar is elemente wat die opbouende potensiaal sleg ondermyn. “Eerstens het Suid-Afrika nie ’n betroubare energieverskaffer nie. Om ekonomies sterk te kan groei, moet daar voorspelbare krag gelewer word, maar Eskom sukkel om dit te doen,” het Vorster gesê. 

Hy meen die gebrek aan onderhoud by kragsentrales is kommerwekkend. Al Suid-Afrika se kragsentrales, met die uitsondering van Medupi en Kusile, is meer as 40 jaar oud. “Die regering begin egter vordering maak om private kapitaal by te trek vir kragopwekking, wat ’n gunstige teken is.”

Die tweede element wat groei kniehalter, is die regering se volgehoue ideologiese beleid. “Die regering hou vas aan die idee dat die staat groot projekte kan lewer, terwyl dit duidelik is dat hy nie oor voldoende kapasiteit beskik om dit reg te kry nie. ’n Staat wat ’n groter rol wil speel, vereis doeltreffendheid in sy burokrasie, en dit vind eenvoudig nie hier plaas nie,” het Vorster gesê.

Laastens is staatskuld vinnig besig om by onvolhoubare vlakke verby te beweeg. “Ons is op die stadium waar 20 sent van elke rand wat deur belasting ingewin word, vir die diens van skuld aangewend word. Dit is ’n benarde situasie om in te wees.”

Om uit hierdie kwaai knyptang te kom is ekonomiese groei ononderhandelbaar, het Vorster gesê. “Ekonomiese groei kan baie van die land se probleme oplos. Gebeur dit egter nie, gaan ons al hoe dieper in die moeilikheid beland.”?

Waar laat dit Suid-Afrika?

Vorster het benadruk dat ekonomiese groei die grootste strewe moet wees. “Dit is primêr belangrik dat die presidensie genoeg vertroue in die land skep om kapitaal – plaaslik en buitelands – te verkry. Onteiening van grond moet op ’n haalbare, rasionele manier aangepak word, terwyl die Reserwebank en tesourie die kwessie rondom pensioenfondse moet aanpak. 

“Die grootste enkele struikelblok gaan die toets wees wat die presidensie en die minister van finansies sal moet oorkom met staatsdienssalarisse. Die grootste enkele vakbond binne Cosatu is die staatsdiensvakbond en dit gaan ’n moeilike hekkie wees om hierdie mense te oortuig om laer verhogings in die komende paar jaar te aanvaar. 

“Laastens sal ons moet sien dat mense wat deur die howe aan korrupsie skuldig bevind word, in die tronk beland. Ons is in ’n baie beter posisie as selfs drie jaar gelede, maar daar is nog baie dinge wat gedoen moet word.”