Suid-Afrika ondersteun die internasionale Parys-ooreenkoms om klimaatsverandering teen te werk, wat wys die land is deel van ’n wêreldwye poging om ’n ekonomie met lae koolstofvrystellings te bevorder.

Molewa het gesê wanneer die komitee sy werk aan die wetsontwerp oor klimaatsverandering voltooi het, sal dit vir goedkeuring na die Kabinet gestuur word om dit by die Parlement in te dien.

Die wetsontwerp maak voorsiening vir versagtings- en aanvaardingsmaatreëls, asook ’n ekonomiese instrument, soos koolstofbegrotings. 

“Die toenemende voorkoms en intensiteit van uiterste weerstoestande oor Suid-Afrika heen – van kitsvloede in sommige dele van die land tot verwoestende droogtes in ander dele – sê vir ons klimaatsverandering het lankal reeds ’n meetbare werklikheid geword.”

Die Tesourie het reeds in 2016 die voorgestelde regulasies vir koolstofvrystellings vir openbare kommentaar gepubliseer, wat besighede saam met koolstofbelasting kan gebruik om dié belasting te verminder.

Spesiale uitsluiting vir die landbou- en bosboubedryf word vir ’n sekere tydperk voorsien. Vroeëre aanduidings was dat dit vyf jaar sal wees.

Die instelling van dié koolstofbelastingwet is al ’n paar keer uitgestel.

Mnr. Malusi Gigaba, wat Minister van Finansies was toe die Begrotingsrede in Februarie gelewer is, het aangedui dat die belasting op 1 Januarie 2019 ingestel sal word.

Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het tydens sy departement se begrotingsrede gesê die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) het klimaatslim landbou (CSA) geïdentifiseer as produksiestelsels wat volhoubare produktiwiteit verhoog. Dit verminder ook koolstofvrystellings en help lande om hul nasionale voedselsekerheids- en ontwikkelingsdoelstellings te verbeter. Die CSA-program word ook in Suid-Afrika geïmplementeer.

Suid-Afrika is vasberade om sy doelstellings te bereik om nie sy gesonde en produktiewe grond te verloor nie. Dit is te midde van waarskuwings oor die bedreiging van moontlike wydverspreide hongersnood wat in baie lande kan voorkom as verwoestyning en die agteruitgang van grond nie bekamp word nie.

Me. Barbara Thompson, Adjunkminister van Omgewingsake, het gesê dit sal ’n geïntegreerde landskapbenadering verg wat tot voedselsekerheid, watersekerheid en die onderhoud van koolstofvangputte (natuurlike koolstofvangputte is plante, die oseaan en grond) bydra.

Die Departement van Omgewingsake sal met wetenskaplike instellings en vennote moet saamwerk word om skakels te identifiseer tussen die agteruitgang van grond en migrasie teenoor die agteruitgang van grond en die onstabiliteit en/of sekuriteit daarvan. Die migrasie vind plaas wanneer mense van een stuk plaasgrond na ’n ander skuif omdat die grond uitgeput raak en byvoorbeeld minder kos produseer of as hulle trek op soek na beter weiding.