Luidens 'n verslag van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye was daar teen 11 Januarie vanjaar altesame 120 aanmeldings sedert Junie verlede jaar. 

Daarvan was 30 uitbrekings op kommersiële hoenderplase, 38 onder volstruise, 25 onder wilde voëls en die res onder agterplaashoenders en stokperdjie- en dieretuinvoëls.

Wes-Kaap hardste getref

Die grootste getal aanmeldings, naamlik 87, was in die Wes-Kaap.

Sedert 31 Oktober verlede jaar het dié provinsie geen aanmeldings op voorheen onbesmette pluimveeplase gehad nie. In Desember was daar egter 'n herbesmetting op 'n plaas wat reeds onder kwarantyn was.

Die siekte is Desember steeds by wilde voëls gevind en tot middel November nog onder volstruise, hoewel dié voëls klinies gesond bly.

Dr. Ziyanda Majokweni, direkteur van die agentskap vir pluimveesiektebestuur (PDMA), sê dit is nog te vroeg om te sê die siekte is endemies in Suid-Afrika.

Sekere kriteria geld daarvoor, soos wanneer dit onmoontlik raak om uitbrekings te beheer en die siekte herhaaldelik en oor verskeie seisoene heen voorkom.

Noordelike Halfrond 

Net soos mense geneig is om in die winter griep te kry, is voëls geneig om in die winter voëlgriep te kry.

Prof. Celia Abolnik, voëlgriepkenner van die Universiteit van Pretoria, sê in die Noordelike Halfrond, waar dit nou winter is, word verskeie uitbrekings van die hoogs aansteeklike H5-voëlgriepvirus nou aangemeld – sommiges is H5N8 en ander H5N6.

Die uitbrekings is meestal onder wilde voëls, soos swane.

“In Europa en die Midde-Ooste is dit die laaste twee weke in die Oekraïne, Irak, Brittanje, Duitsland en Afganistan aangemeld,” sê Abolnik.

Me. Bomikazi Molapo, woordvoerder van mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê intussen Suid-Afrika se verbod op die invoer van hoender uit Europese lande waar H5N8 sedert laat 2016 aangemeld is, geld steeds.

'n Span amptenare sal na verwagting einde Februarie die betrokke lande besoek om hulself van die situasie daar te vergewis