Die situasie rondom water in die land het reeds dermate in ’n krisis ontwikkel dat dit nie maklik baasgeraak sal kan word nie, het mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van die Senwes-groep, gewaarsku in ’n debat oor water as deurslaggewende kommoditeit.

Die debat was deel van die Nasie in Gesprek-reeks op die Nampo-oesdag buite Bothaville.

Mnr. Benoit le Roy, uitvoerende hoof van Water Shortage South Africa (’n organisasie wat die aandag op watertekorte wil vestig), het gesê hy wil nie ’n onnodige bohaai maak nie, “maar ons het ’n katastrofe sonder gelyke op hande oor water. Aan die ander kant moet mens nooit ’n goeie krisis verlore laat gaan nie. Sodra mense die bedreiging besef, sal hulle oplossings vind. 

Tyd

“Daar is nie tyd om te mors nie. Die land is sedert 1982 besig om uit te droog – veral in die wintereëngebied. Ons sit op ’n tydbom.” Hy het gesê dat in Suid-Afrika nie rekenskap gegee kan word van 41% van water wat in groot maat aangekoop word nie, terwyl die internasionale norm in stede sowat 25% is.

Sowat van 35% van die plaaslike water gaan verlore weens lekkende pype. Hul gebruikstyd van 40 jaar is verby en hulle word nie vervang nie.

Le Roy het gesê dit sal Suid-Afrika sowat R1 triljoen kos om die waterinfrastruktuur reg te ruk. Hy vra ook vir ’n onafhanklike waterreguleerder. 

Belangrikste element

Mnr. Fred Platt, uitvoerende hoof van die Accéntuate-groep van maatskappye wat hom beywer vir ’n nasionale strategie vir water, sê water is die belangrikste element wat nodig is vir ekonomiese bedrywighede. “Gemeenskappe en nywerhede word gewoonlik naby water gevestig. Alle ontwikkeling draai om water.

“Ons hanteer dit egter soos ’n gebruiksartikel wat jy vat, dit benut en dan daarvan ontslae raak. Sodra ons begin besef dat ons net die voorkoms daarvan verander en dat dit verder benut kan word, kan alles verander.” Hy het gesê dat afvalwater en riool ’n bate kan wees waar die water gesuiwer kan word, die afval energie kan opwek en chemikalieë ontgin kan word. 

Tekort

Mnr. Mike Sutcliffe, direkteur van City Insight (’n diens vir stedelike ontwikkeling), het gesê dat Suid-Afrika oor 12 jaar ’n jaarlikse tekort van 3 500 miljoen kubieke meter water gaan hê. “Van die werklikhede van Suid-Afrika is dat 80% van die mense op net 2% van die grondgebied woon en ook dat net 9% van die grondgebied oor bo- of ondergrondse waterbronne beskik.”

Hy het gesê net 40% van Suid-Afrikaners het toegang tot water in hul huise. “By 18 damme wat in die jongste tyd gebou is, het gemeenskappe wat in die omgewing van die damme woon, nie toegang tot die water nie.”

Sutcliffe het gesê een van die belangrikste denkskuiwe wat gemaak moet word, is oor die benutting van gryswater. Suid-Afrika se gesuiwerde water tel onder die toptien ter wêreld wat gehalte betref, maar dit word vir alles gebruik. Vir nywerhede kan gryswater geskik wees. 

Strydom het gesê die antwoorde lê by biologie en die natuur. As daar aansporings is, sal boere die regte ding doen. “ ’n Boer wat byvoorbeeld ’n natuurlike vleiland op sy plaas bewaar om water te suiwer, moet daarvoor vergoed word.” Hy is oortuig dat daar oplossings vir die probleme sal wees as daar groter samewerking tussen owerhede en die private sektor is en ’n gesamentlike visie oor die pad vorentoe ontwikkel word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.