Volgens die landbou-inligtingsdiens Agricensus sal ’n vrag geel mielies uit Brasilië teen 24 Januarie die land inkom.

Groot dele van die somersaaigebiede het nog nie genoeg reën ontvang om te plant nie. Boere in die westelike dele van die land kon weens die hitte en droë toestande grotendeels eers ná optimale planttyd in Januarie begin mielies plant, wat meebring dat hulle nie die beoogde aantal hektare sal kan beplant nie. Mieliepryse het in reaksie daarop nader aan invoerpariteitsvlakke begin beweeg.

Volgens Agricencus is die invoervrag deur die Chinese handelaar Cofco verskeep en is verdere besendings tot Junie bespreek. Hy haal ’n anonieme bron in die graanhandel aan wat daarop wys dat die Brasiliaanse uitvoerseisoen nou einde se kant toe staan en dat enige verdere voorraad waarskynlik eerder van Argentinië sal kom.

Aan die begin van die seisoen het Suid-Afrika met ’n surplus mielies gesit en die beskikbare mielies vir uitvoer aan die begin van die bemarkingsjaar is op sowat 4,1 miljoen ton geraam. Dit het verwagtinge geskep dat die land heelwat mielies sal uitvoer, veral aangesien plantvoornemens daarop gedui het dat boere van voorneme was om meer mielies as in die vorige seisoen te plant.

Data van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) toon dan ook dat 1,3 miljoen ton geel mielies teen begin Oktober, halfpad deur die bemarkingsjaar, uitgevoer is. Dit was 400 000 ton meer as in die vorige ooreenstemmende tydperk.

Wit mielies

Die groot voorraad wit mielies het die plaaslike pryse afgedruk en daartoe gelei dat heelwat wit mielies deur die plaaslike voerbedryf aangekoop is. Die benarde planttoestande het egter dié prentjie verander. Met geel mielies wat fluks uitgevoer word en die vraag na wit mielies wat weens die droogte verhoog het, het vrese begin opvlam dat die land se voorraad nie voldoende gaan wees tot die volgende oes gelewer word nie.

Dit het plaaslike pryse opgedruk op ’n tydstip dat internasionale pryse onder druk was, en dus die scenario geskep waar die land van uitvoer na invoer kan omswaai. Die styging in plaaslike mieliepryse veroorsaak ook dat Suid-Afrika nie mededingend kan uitvoer nie.

“Ek meen die mark probeer die voorraad mielies wat oor is, beskerm. Daar is nie baie geel mielies oor nie, daarom word daar ingevoer,” het die bron aan Agricencus gesê.

In sy daaglikse markkommentaar sê Senwes Grainlink die konsensusverwagting is tans dat mielie-aanplantings van 1,9 miljoen tot 2,1 miljoen hektaar kan wees met ’n oes van 8,5 miljoen tot 11 miljoen ton.

“ ’n Oes van minder as 10 miljoen ton sal waarskynlik die invoer van geel mielies aan die kusgebiede noodsaak, veral teen die heersende Randfontein-geelmielieprys wat duurder is as om geel mielies uit Amerika in die Kaap te ontskeep.”

Volgens Sagis het Suid-Afrika van Mei tot Oktober verlede jaar 645 000 ton geel mielies na Viëtnam uitgevoer, 210 000 ton na Suid-Korea, 106 000 ton na Taiwan en 100 000 ton na Italië. Sedertdien het die uitvoervlakke begin daal. Slegs een vrag van 58 000 ton is vroeg Desember na Viëtnam uitgevoer, terwyl gemiddeld 4 500 ton per week uitgevoer is. Die jongste data, wat op Donderdag 10 Januarie bekend gemaak is, toon dat 1 804 ton in die eerste week van Januarie uitgevoer is, wat heelwat laer is as in die ooreenstemmende week verlede jaar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.