Klimaatstoestande wat oor die afgelope 50 jaar oor Afrika heen gemeet is, dui aan dat die hele vasteland warmer word. Dít is een van die bevindinge wat prof. Francois Engelbrecht, die hoof van die klimaatstudie-, modellerings- en omgewingsgesondheidnavorsingsgroep by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), op Landbouweekblad se Herlewingslandboukonferensie aan konferensiegangers oorgedra het. 

Die konferensie is op Reitz aangebied met die samewerking van die Riemland Studiegroep en Graan SA, met Standard Bank, VKB Landbou en Dekalb SA as hoofborge. 

Volgens Engelbrecht kom die vinnigste temperatuurstygings in die Suidelike Halfrond voor, met Botswana wat die vinnigste warmer word. “Byna die hele binneland van Suider-Afrika se temperatuur is reeds 2 °C warmer as ’n 100 jaar gelede.” 

Die droogte van 2015-’16

Die hele Suider-Afrika het van Desember 2015 tot Februarie 2016 die warmste somer tot nog toe aangeteken. “Baie groot dele (van die streek) se boere het gemiddelde temperatuurstygings van tot 1 °C ervaar,” sê Engelbrecht. 

Die somer van 2015-’16 was ook uitsonderlik warm vir Suid-Afrika. “Vir ons was dit die eerste somer waartydens ons temperature tot 2 °C hoër was as normaalweg. Dit was werklik ’n uitsonderlike warm somer – die warmste wat ons tot nog toe gemeet het,” sê hy. 

Volgens Engelbrecht is die afgelope paar jaar waargeneem dat die binneland se grondvogvlakke wat gewoonlik teen November bereik is, eers sowat ’n maand later aangeteken word. “Dit beteken onder meer ook dat die seisoen waartydens brande voorkom, langer word.” 

Meer hittegolwe

Die temperatuurstygings kan volgens Engelbrecht aan aardverwarming gekoppel word, wat die gevolg is van hoë vrystellingsvlakke van koolsuurgas. Dít word veroorsaak deur die gebruik van koolstof – onder meer vir die opwek van krag. “As ons op dié trajek van koolsuurgasvrystellings voortgaan soos dit tans daar uitsien, kan dit teen 2050 ’n toename van 4 °C beteken.”  

Aan die einde van die eeu kan Suid-Afrika se temperatuurstygings 6 °C tot 8 °C hoër wees. 

“In die nabye toekoms,tot ongeveer 2035 – dus vir nog so 15 jaar, kan ons min of meer ’n normale variasie van klimaat sien. In terme van die slegste scenario (as koolstofvrystelling nie beperk sou word nie) gaan die patroon van verwarming ongelukkig erger word,” sê Engelbrecht. Hy sê hittegolwe sal dan ook aansienlik meer voorkom.

Kan dit nie ontsnap nie

Al sou koolsuurgasvrystelling verlaag, sal verdere klimaatsverandering nie voorkom kan word nie. Engelbrecht sê al daal koolstofvrystellingvlakke, sal ’n gemiddelde styging van 3 °C steeds teen 2040 moontlik wees. 

“Op die oomblik vorder ons bloot te stadig om klimaatsverandering te bekamp. Ons kan steeds ’n styging van 5 °C tot 8 °C teen die einde van die eeu voorkom as die klimaatsooreenkoms wat in 2016 in Parys, Frankryk, gesluit is, aggressief toegepas word,” sê Engelbrecht.