Dr. Rob Davies, die Minister van Handel en Nywerheid, het sy goedkeuring gegee vir die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) se voorstel dat die invoertarief vir suiker tot $680/ton verhoog moet word.

Dit volg nadat die bedryf – wat op sy knieë was weens tariefvrye suikerinvoer – in Februarie vanjaar om die verhoging van die dollargebaseerde verwysingsprys van $566/ton tot $856/ton aansoek gedoen het. Hoewel die maksimum verhoging nie goedgekeur is nie, meen die Regering die nuwe verwysingsprys van $680/ton sal onmiddellike verliging en beskerming aan die plaaslike suikerbedryf bring.

Die grootste kostedryfkragte vir die plaaslike bedryf is onder meer kunsmis en chemikalieë, elektrisiteit, vervoer en arbeid.

Die suikerbedryf dra sowat R14 miljard by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) by en 85 000 mense word regstreeks en 350 000 onregstreeks werk gebied.