’n Spesiale taakspan kyk spesifiek na die diversifikasie van die suikerbedryf. Die gebruik van suiker as grondstof vir biobrandstof is reeds deur die kabinet goedgekeur.

Me. Ncumisa Mcata-Mhlauli, hoofdirekteur vir landbouverwerking by die departement van handel en nywerheid, sê boere wat suikerriet verbou, kan tans net uit melasse en voordeel trek.

Die departement van minerale en energie het die raamwerk vir biobrandstof in die Staatskoerant afgekondig, en dit kan nou toegepas word. Dit is goeie nuus vir die suikerbedryf wat sowat 20 miljoen ton suikerriet produseer en gereeld bloedneus kry met sy oorskot suiker wat teen baie lae pryse op die wêreldmark verkoop moet word.

Die bedryf sal met 8 miljoen ton suikerriet sowat 640 miljoen liter etanol kan produseer en sowat 5% tot die nasionale brandstofpoel kan bydra. Mnr. Hans Hackmann, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV), het reeds aangedui dat die bedryf gereed is om hierdie nuwe fase aan te pak. 

Meesterplan

Mnr. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het gesê die suikerbedryf is besig om sy aansoek vir die Mededingingskommissie voor te berei om kwytskelding te kry van sekere bepalings in die Wet op Mededinging sodat meulenaars en ander byeenkom om oor die bepalings in die meesterplan te praat.

’n Amptelike ondertekeningseremonie van die suikermeesterplan sal ná die aansoek en ná die Covid-19-inperking plaasvind, het Patel aan die Parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid gesê.