Dit het tot verliese gelei wat die suikerbedryf se totale bydrae tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) in 2019 met R2,05 miljard verminder het, luidens ’n nuwe verslag oor die impak van dié belasting. Dit is deur die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) in opdrag van die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid onderneem.

Die regering het die gesondheidsbevorderingsheffing, die amptelike naam vir die suikerbelasting, in 2018 ingestel om laer suikerverbruik onder veral arm mense aan te moedig.

Luidens die Nedlac-verslag het dit verreikende gevolge vir werksgeleenthede in die plaaslike bedryf gehad, wat op sy beurt weer tot verminderde besteebare inkomste en druk op die bedryf gelei het. Net in 2019 het die impak van die heffing tot 16 621 werksverliese gelei, terwyl beleggings in die ekonomie in dieselfde tydperk met R653 miljoen ingekrimp het.

Die suikerbedryf se bruto waardetoegevoegde bydrae tot Suid-Afrika se BBP het met R1,19 miljard gedaal. Dié meetinstrument weerspieël die bedryf se netto produksie en word gebruik om die bydrae van elke bedryf tot die BBP te kwantifiseer. As gevolg van dié verliese het die suikerbedryf se totale bydrae tot die BBP met ’n kumulatiewe R2,05 miljard in 2019 afgeneem.

In die verslag word gesê suikerrietboere het in 2017, voor die instelling van suikerbelasting, 94 621 direkte, indirekte en afgeleide werkgeleenthede ondersteun. Dit was 11,2% van die Suid-Afrikaanse landbouwerksmag. Teen 2019 het die suikerbelasting die sektor 9 154 werkgeleenthede, byna 10% van sy werksmag, gekos. In 2017 het suikerrietboerdery R10,5 miljard tot die nasionale BBP bygedra. Dié syfer het ’n jaar ná die instelling van die suikerbelasting met ’n beraamde R214,7 miljoen gedaal. Ná die tweede jaar het dié verlies op ’n kumulatiewe R414,2 miljoen te staan gekom.

Werkverliese kan styg

In sy reaksie sê mnr. Rex Talmage, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging, dis belangrik om in gedagte te hou dat dié bevindings net van toepassing is op die eerste jaar ná die instelling van die suikerbelasting. “Die syfers is vandag, drie jaar ná die instelling van die belasting, ongetwyfeld veel hoër.”

Die verslag meld ook dat werkverliese kan styg namate die heffing elke jaar opwaarts aangepas word en die bedryf telkens die impak moet verreken.

Talmage wys daarop dat die suikerbelasting die plaaslike suikerbedryf op ’n baie slegte tyd getref het. Ander ekonomiese skokke soos droogte, goedkoop ingevoerde suiker en verhoogde produksiekoste het toe reeds ’n tol geëis. “Dis duidelik uit die verslag dat die belasting die finale doodskoot vir duisende landelike suikerrietboere en plaaswerkers was.”

Hy sê Suid-Afrikaanse suikerrietboere is verheug dat die bekendstelling van die Nedlac-verslag saamval met die stigting van ’n taakspan wat belastingbeleid se impak op produkte moet ondersoek. Die taakspan is deel van die regering se meesterplan om poste in die suikerbedryf te red.

Nedlac het die verslag ook na die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid verwys en Talmage sê die bedryf wil graag met die komitee in gesprek tree oor die bevindings.

“Ons is hoopvol dat die verslag daartoe sal bydra dat die regering finaal op die suikerbedryf se oproep sal reageer om suikerbelasting af te skaf. Dit is deurslaggewend vir die sukses van die meesterplan en die uiteindelike herstel van die sektor.”