Die 2016/’17-suikerrietoes kan heel moontlik die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging, Canegrowers, se voor-seisoenoesskatting van 14.57 miljoen ton oorskry.

Volgens mnr. Richard Nicholson, ekonomiese navorsingsbestuurder by Canegrowers, het droëland-suikerriet beter herstel na die voortslepende droogte as wat verwag was. Dit is goeie nuus vir die bedryf wat gewoond is om nagenoeg 20 miljoen ton in normale jare te oes.

Die afname is grootliks aan die voortslepende droogte, wat sommige areas in die suikerriet produserende gebiede al vir drie agtereenvolgende jare teister, toegeskryf. “Tans is reeds 5.8 miljoen ton suikerriet geoes, wat 39.9% van die geskatte 14.57 miljoen ton vir die seisoen is. In sommige gebiede, veral die droëland-gebeide, word hierdie skatting as ’n groeiende skatting gesien,” verduidelik Nicholson.

Daar is egter nog heelwat uitdagings tot aan die einde van die seisoen. Die onlangse reën beteken dat die oesproses tydelik gestaak moes word in sommige gebiede om die landerye kans te gee om voldoende af te droog voordat die oesproses hervat kan word. “Produsente hoop dat die reën hulle nie te vêr terugsit nie en dat hulle steeds hul geoormerkte suikerriet vir die die seisoen geoes kan kry,” verduidelik Nicholson.

Volgens mnr. Roy McGladdery van Treetops-suikerrietboerdery naby Eston in KwaZulu-Natal (KZN)-middellande, het hulle in drie dae meer as 100 mm reën gemeet. “Ons het vir die 2016 reeds amper 600 mm reën gemeet, terwyl ons in die ganse 2015 slegs 650 mm gehad het en slegs 478 mm in 2014. Hierdie reën gaan nie meer ’n wesenlike invloed hê op die huidige oes nie, maar vir volgende jaar se oes, is hierdie reën uitstekend.

Ons is 30 dae van die lente af en as hierdie vog reeds in die grond is wanneer die dae begin langer raak en die temperature begin optel, dan gaan ons pragtige resultate hê in beide die gevestigde suikerriet en nuwe aanplantings,” verduidelik McGladdery.

Die KZN-middellande sukkel weens die droogte, wat suikerriet die afgelope paar seisoene meer kwesbaar maak vir die Eldana-mot, ’n pes wat groot verliese veroorsaak. “Die erge koue wat ons ervaar sal die Eldana verseker goed terugsit en kan dalk help om groter oeste te realiseer, maar dit gaan maar steeds ’n moeilike jaar wees. Ons oes gewoonlik ’n gemiddeld van 90 ton/ha suikerriet op Treetops, maar ons sukkel om vanjaar meer as 60 ton/ha te oes,” verduidelik McGladdery.