Die Suid-Afrikaanse suikerbedryf staan op die randjie van ineenstorting. Die droogte het die bedryf erg geknou, terwyl die Regering se “administratiewe fout” veroorsaak het dat suiker op groot skaal in die land gestort is.

Suiker is van 28 Julie tot 15 September verlede jaar tariefvry vanaf Brasilië en die Verenigde Arabiese Emirate ingevoer, terwyl die tarief in die res van verlede jaar baie laer was as wat dit moes wees.

Die Parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid het verlede maand op ’n komiteevergadering op antwoorde van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) en die Departement van Handel en Nywerheid oor die situasie aangedring. Die drié instansies moet volgens die komitee verantwoordelik gehou word vir die “administratiewe fout”. Nie een van hulle het vrae oor die kwessie reguit geantwoord nie.

Nuut in pos

Landbouweekblad het egter betroubaar verneem dat Gigaba eintlik die een is wat die skuld moet kry. Hy is op 31 Maart verlede jaar deur oudpres. Jacob Zuma as Minister van Finansies aangestel. Die verduideliking vir die fout is dat Gigaba en sy adjunk nog nuut in hul poste was en gesloer het om die dokumente te onderteken wat ’n nuwe invoertarief daar moet stel.

Dié fout het suikerinvoer van 500 000 ton meegebring, wat die mark vir plaaslike suiker verklein het. Me. Rika Theart, senior bestuurder vir tariefondersoeke by Itac, het aan die portefeuljekomitee gesê toe dié entiteit besef het dat die invoerprys na nul sal verlaag omdat daar geen finansiële data is om ’n tarief in te stel nie, het hy probeer om die intreemeganisme te beïnvloed sodat ’n tarief kan intree. Dit kon egter nie suksesvol gedoen word nie. Die enigste ander uitweg was om die verpligte 20 handelsdae toe te laat voor die Minister van Handel en Nywerheid gevra kon word om ’n koers van 42% toe te laat.

Landbouweekblad verstaan na afloop van die verpligte wagtydperk is die dokumente deur dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, onderteken. Daarna het die dokumente op Gigaba se lessenaar beland, waar dit lank gelê het.

Intussen het die suikerbedryf aansoek gedoen dat die dollargebaseerde verwysingsprys na $856/ton verhoog word om die bedryf van ondergang te red.

Volgens die Suid-Afrikaanse Suikervereniging kan heelwat dorpe in die suikerproduksiegebied, soos Port Shepstone, Kwadukuza, Mtubatuba, Tongaat, Pongola, Gingindlovu en Dalton ondergaan indien daar nie dringende ingryping kom nie.