Die plaaslike suikerbedryf kan uitsien na ’n regverdiger mededinging ná ’n aankondiging deur die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac), wat die dollar gebaseerde verwysingsprys vir ’n invoertarief met 58% tot $566 per ton verhoog het.

Die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) het in Oktober 2013 om ’n verhoogde dollar gebaseerde verwysingsprys (DBVP) vir ’n invoertarief by Itac aansoek gedoen.

Die aanvanklike aansoek, wat die DBVP van $358 tot $764 sou verhoog, was volgens die SASV nodig om plaaslik geproduseerde suiker mededingend te maak.

Om plaaslike bedryf te help
Die invoer van suiker op grond van die wêreldprys, wat rondom $500 per ton is, het die plaaslike suikerbedryf se toekoms bedreig. Die aansoek om ’n tariefverhoging tot op $764 was dus om die “plaaslike bedryf ’n volhoubare toekoms te bied,” aldus SASV se hoof uitvoerende beampte, mnr. Trix Trikam.

Die aansoek is teengestaan deur invoerders van suiker, die ministerie van handel en nywerheid van Namibië en Botswana, voedselverwerkers, rederye en kleinhandelaars in Suid-Afrika. Dié teenstand spruit uit die vrees dat ’n verhoogde tarief die prys van suiker in Suid- en Suider-Afrika aansienlik kan verhoog en die sakegeleenthede vir invoerders en rederye sal vernietig.

Die kapsie-makers het boonop aangevoer dat ’n verhoogde tarief suikerprodusente minder doeltreffend sal maak, dat die rand waarvan die waarde verminder, genoeg beskerming vir die bedryf bied, dat slegs meulenaars se wins sal vergroot en dat swart ekonomiese bemagtiging in die gedrang is. Volgens ’n nuusverklaring van Itac is al hierdie kwessies oorweeg met die berekening van ’n nuwe DBVP.